Nuus 11:00
BULLETIN 29 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering stel verkryging reg
# ACSA herstel die kragnetwerk op die Kaapstadse Internasionale Lughawe
# En, Olimpiese Spele: Tatjana Smith sê sy plaas geen druk op haarself voor vanaand se eindronde nie
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is deur die Wet op Openbare Verkryging besig om probleme reg te stel wat in die staatskapingskommissie se verslag genoem is. Hoofregter Raymond Zondo het korrupsie in verkryging as die middelpunt van staatskaping beskryf. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief die wet maak die verkrygingstelsel meer deursigtig, regverdig, billik en mededingend. Hy sê openbare verkryging moet die beste waarde vir die staat kry en seker maak openbare fondse word gebruik vir dít waarvoor dit bedoel is.
# Die ATM sê die ontdekking van die vermeende onwettige militêre opleidingskamp in Witrivier, Mpumalanga, is maar een voorbeeld van verskeie onwettige bedrywighede wat in Suid-Afrika aan die gang is. Nasionale woordvoerder Zama Ntshona sê onlangse berigte het reeds kommer laat ontstaan oor die land se moontlike betrokkenheid by die finansiering van terroristegroepe. Hy voeg by sommige mense en groepe wat spaza-winkels bedryf, is glo ondersteuners van die groepe op ‘n globale skaal:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê hy het die aanloopbaanligte en lugverkeersnavigasiedienste herstel na gisteraand se kragonderbreking op die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Vlugte kon nie opstyg of land nie terwyl ander na ander lughawens herlei is terwyl tegnici aan die probleem gewerk het. Ernest Mulibana van ACSA sê die kragtoevoer is in die vroeë oggendure herstel en elf vliegtuie kon sedertdien land:
# Venezuela se outoritêre leier, Nicolás Maduro, is as president herkies ondanks beweerde verkiesingsonreëlmatighede. Die Nasionale Verkiesingsraad sê met 80-persent van die stemme getel, het Madura meer as 51-persent gekry, vergeleke met sy grootste teenstander, Edmundo González Urrutia, wat meer as 44-persent van die stemme behaal het. Meningspeilings het González ‘n groot voorsprong teenoor Maduro gegee. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê sy land is bekommerd dat die verklaarde uitslag nie die wil van die mense van Venezuela weerspieël nie.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se swem-ster, die 27-jarige Tatjana Smith, sê sy is trots op haar prestasie in die 100 meter-borsslag in Parys waar sy die vinnigste kwalifiseerder was. Intussen het Pieter Coetzé ‘n nuwe Afrika-rekord van 52,63 sekondes opgestel. Hy het gesamentlik tweede klaargemaak in die laaste uitdun van die mans-100 meter-rugslag om die eindronde te bereik. Smith het goud en silwer in Tokio gewen en sê sy plaas nie druk op haarself voor die eindronde nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-469-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….