Nuus 11:00
BULLETIN 3 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê die ANC sal arbeidsintensiewe sektore ondersteun
# Palestynse amptenare sê hulle benodig 600 ondersteuningsvragmotors per dag
# En swem: Pieter Coetzé kry nog ’n kans om ’n medalje te wen
# ‘n Lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, Kgosientsho Ramokgopa, sê die komitee het die behoefte erken om arbeidsintensiewe sektore soos landbou, vervaardiging en die boubedryf te ondersteun. Hy sê hulle het opnuut bevestig dat ‘n volhoubare en transformerende ekonomiese agenda op mense en ontwikkeling moet fokus. Die basis daarvan is gedeelde voorspoed, solidariteit en geregtigheid. Ramokgopa sê die NUK het gevra vir sterker ondersteuning vir township en landelike ondernemings, koöperasies, en klein, medium en makro-ondernemings om inklusiewe groei te bevorder:
# Die DA in Gauteng sê hy is bekommerd dat groepe wat teen migrante gekant is soos Operasie Dudula en March and March toenemend beheer verkry oor verskeie hospitale en klinieke in die provinsie. Die party sê dit is onwettig en plaaslike sekerheidswagte, misdaadbewaarders en polisie moet ingryp. Jack Bloom van die DA sê hy is Vrydag by die Orchards-kliniek in die ooste van Johannesburg voorgekeer deur sogenaamde gemeenskapsaktiviste en vir sy ID gevra:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê die Stad Kaapstad het sy aansoek om as ‘n Amicus Curiae toegelaat te word in die saak tussen die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging en Kaapstad verwerp. Joan Swart van die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê hulle wou aanvoer dat artikel 214 van die Grondwet billike verdeling van inkomste tussen regeringsafdelings verplig en dat elke afdeling se diensbehoefte in ag geneem moet word:
# Slegs 36 hulpvragmotors is Saterdag in Gaza ontplooi, ten spyte van die humanitêre krisis in die gebied. Amptenare sê ten minste 600 vragmotors is daagliks nodig. Die onmiddellike opening van toegangsroetes om hulp toe te laat is gisteraand bepleit. President Donald Trump se Midde-Oosterse gesant het intussen aan die families van die gyselaars wat steeds in Gaza aangehou word, gesê dat Trump en Israel werk saam om die oorlog te beëindig. Hammas sê in reaksie hy sal nie ontwapen nie tensy ‘n onafhanklike Palestynse staat met Jerusalem as hoofstad gestig word.
En ten slotte sportnuus:
# Swem: Pieter Coetzé kry vandag nog ‘n kans om sy reeds indrukwekkende medalje-oes by die Wêreld-swemkampioenskap in Singapoer te verbeter nadat hy gister sy 50 meter-rugslag-halfeindronde gewen het. Die 21-jarige het reeds goud in die 100-meter-rugslag en silwer in die 200-meter-rugslag ingepalm. Coetzé het met sy oorwinning in die halfeindronde die Suid-Afrikaanse en Afrika-rekord verbeter wat 16 jaar gelede deur die voormalige wêreldkampioen Gerhard Zandberg in Rome opgestel is. Die laaste dag van die kompetisie in Singapoer sal ook die Suid-Afrikaanse vroue-4×100-meter-wisselslag-aflosspan in aksie sien voordat Coetzé tydens die aandsessie in die swembad klim.
# En rugby: Die Springbok-vroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, het sy span geprys nadat hulle Saterdag Nieu-Seeland se Swart Varings op die Athlone-stadion in Kaapstad gewen het om hul voorbereiding vir die Rugbywêreldbeker op ‘n positiewe noot af te sluit. De Bruin sê die oorwinning van 41-24, het in teenstelling met die nederlaag van 34-26 verlede naweek, verskeie positiewe gevolge vir afrigters en spelers gebied. Hy sê hul Rugbywêreldbeker-voorbereiding is nou voltooi en hulle kan fokus op die openingswedstryd teen Brasilië in Northampton. Die Wêreldbeker-groep word op 9 Augustus aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….