Nuus 11:00
BULLETIN 26 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom Zizi Kodwa se bedanking as LP
# Suid-Afrika loop die gevaar om nie sy 2030 koolstof-verminderingsteikens te haal nie
# En, Olimpiese Spele: Suid-Afrika se vrouehokkiespan is gereed om alles te gee in Parys
# ActionSA het die bedanking van die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, as parlementslid verwelkom. Hy word van korrupsie aangekla te midde van bewerings oor bedrog met kontrakte tydens sy termyn as ANC-woordvoerder tussen April 2015 en Februarie 2016. ActionSA se koukusleier in die Parlement, Athol Trollip, sê dit is ondenkbaar dat ‘n LP vir ‘n korrupsie-oortreding in die hof verskyn en dit probeer balanseer deur in die Parlement te dien en die land se wette te help maak:
# Die Presidensiële Klimaatkommissie waarsku Suid-Afrika kan sy 2030-teiken vir die vermindering van koolstofvrystellings misloop. Dit is weens die vertraging in die uitdiens-stelling van drie steenkoolkragstasies – Camden, Grootvlei en Hendrina – en ‘n gebrek aan nuwe skoonenergie-bronne. Die kommissie het gister sy eerste verslag oor die Stand van Suid-Afrika se Klimaatoptrede bekendgemaak. Dit beklemtoon die gebrek aan konsensus oor die tempo van steenkool-uitfasering vertraag die instelling van die nodige beleidsmaatreëls soos die konsep-Geïntegreerde Hulpbronneplan van 2023.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste gaan die paroolplasing van Marius van der Westhuizen hersien, wat aanvanklik geskeduleer is vir Woensdag. Die voormalige Kaapstadse polisiebeampte het 17 jaar gelede sy drie kinders vermoor. Hy is verlede maand parool toegestaan. Die departement het besluit om die korrektiewe toesig en die paroolraad se verslag te bestudeer, wat gelei het tot die hersiening daarvan. Singabakho Nxumalo van die departement sê die optrede is in die belang van geregtigheid:
# Human Rights Watch sê dis noodsaaklik dat die nuwe Britse regering nie voortgaan om die Internasionale Strafhof se reg uit te daag om aansoek te doen om lasbriewe vir die inhegtenisneming van Israelse leiers nie. Aanklaer Karim Khan het in Mei aansoek gedoen om lasbriewe vir die inhegtenisneming van Israelse en Hamas-leiers vir beweerde oorlogsmisdade. Die hof het verlede maand die versoek van die voormalige Britse eerste minister, Rishi Sunak, aanvaar vir die indiening van formele betoë teen die lasbriewe. Human Rights Watch sê die leiers moet aanspreeklik gehou word.
# Olimpiese Spele: ‘n Lid van Suid-Afrika se vrouehokkiespan, Kayla Swart, sê die span is vol vertroue en glo ‘n medalje in Parys is moontlik. Die span spog met ses spelers wat aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het. Suid-Afrika open sy veldtog Sondag teen Australië in Groep B. Hulle gaan in die groepsfase ook teen Argentinië, Brittanje, Spanje en Amerika te staan kom. Swart, wat die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk se suster is, sê hulle gaan voluit op die speelveld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-134-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-370-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….