Nuus 11:00
BULLETIN 24 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonomiese risiko-ontleder is bekommerd oor Suid-Afrika se toekoms in AGOA
# Vyf verdagtes word in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n 14-jarige meisie in Mpumalanga
# En, Bernie Sanders veroordeel Netanyahu se toespraak voor die Amerikaanse Kongres
# Die politieke en ekonomiese risiko-ontleder Marisa Lourenço sê dit is onseker of Amerika Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika sal verleng. Die Huis van Verteenwoordigers het ‘n wet deurgevoer wat ‘n oorkoepelende beoordeling vereis van bilaterale betrekkinge, wat moontlik Suid-Afrika se deelname aan AGOA in gevaar kan stel. Lourenço merk op Amerika is verdeeld, met sommige wat Suid-Afrika se insluiting teenstaan weens sy bande met China, Rusland en Iran, terwyl ander ten gunste is van betrokkenheid by Afrika se mees gevorderde ekonomie.
# Die Bevoorradingsraad sê die ondertekening van die Wetsontwerp op Openbare Verkryging is ‘n mylpaal vir die bevoorradingsbedryf en die Suid-Afrikaanse ekonomie in die breë. Die wetgewing is ‘n omvattende raamwerk wat ontwerp is om verkrygingsprosesse gladder te laat loop, en wat die omgewing vir aankope en voorraadkettings meer deursigtig en doeltreffend maak. Die raad se voorsitter, Kamogelo Mampane, sê ‘n nuwe era van ekonomiese transformasie en steun vir plaaslike vervaardiging en dienste is ingelui:
# Die polisie in Mpumalanga sê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat vyf verdagtes wat aangekeer is in verband met die ontvoering van ‘n 14-jarige meisie in Kriel, ook by ander ontvoerings betrokke was nie. Die verdagtes, insluitend twee vroue, het die tiener na bewering Maandag ontvoer en die meisie se ma kort daarna geskakel en gedreig hulle sal haar doodmaak as sy die polisie in kennis stel. Woordvoerder Donald Mdhluli sê twee beamptes is ontplooi om die verdagtes op te spoor:
# Senator Bernie Sanders van Vermont het die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, se toespraak voor die Amerikaanse Kongres veroordeel. Vandag se toespraak volg te midde van vrese oor ‘n moontlike streekoorlog in die Midde-Ooste. Israel en Hamas kon nie instem oor ‘n skietstilstand nie. Sanders, wat sê hy gaan nie die toespraak bywoon nie, het Netanyahu ‘n oorlogsmisdadiger genoem wat ‘n verregse ekstremistiese regering lei:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Federasie vir Perdesport het Brittanje se vroueruiter met die gesamentlike meeste Olimpiese medaljes, Charlotte Dujardin, voorlopig vir ses maande geskors. Dit volg op beeldmateriaal wat wys hoe die dressage-ruiter ‘n perd verskeie kere oor sy been slaan tydens afrigting. Die 39-jarige ruiter, wat ses dressage-medaljes in Londen, Rio en Tokio verower het, het haar aan die Paryse Spele onttrek. British Equestrian sê die bewerings teen Dujardin is ernstig en die uitwerking daarvan verreikend, maar die integriteit van die sport geniet voorrang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-895-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-415-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….