Nuus 11:00
BULLETIN 18 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Operasionele en Intelligensiestruktuur is vol vertroue oor die veiligheidsmaatreëls vir die Parlementsopening
# Die minister van Justisie is daartoe verbind om die aanbevelings van die Zondo-kommissie in werking te stel
# En JD Vance aanvaar sy benoeming as die Amerikaanse Republikeinse Party se visepresidents-kandidaat
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, Natjoints, sê daar sal geen genade wees vir dreigemente, intimidasie en wetteloosheid tydens vanaand se Parlementsopening in die Kaapstadse stadsaal nie. President Cyril Ramaphosa se toespraak sal die sleutelvoorkeure en -beleid vir die sewende administrasie onder die regering van nasionale eenheid uiteensit. Polisie-woordvoerder Athlenda Mathe sê wetstoepassingsagentskappe is reeds ontplooi en gereed om ‘n veilige en suksesvolle geleentheid te verseker:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Nkadimeng, sê haar departement sal steeds pogings verskerp in die stryd teen korrupsie. Altesaam 628-miljoen-rand van die departement se begroting is toegeken aan die instelling van die aanbevelings van die Finansiële Aksietaakmag en die staatskapingskommissie. Nkadimeng sê die stigting van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie met strafregtelike ondersoekmagte sal die integriteit en doeltreffendheid van die land se regstelsel verbeter.
Action Society stel intussen grondwetlike wysigings voor om die Nasionale Vervolgingsgesag te desentraliseer, wat provinsies sal toelaat om hulle eie vervolgingsowerhede in te stel. Die organisasie betoog die huidige gesentraliseerde struktuur beperk doeltreffendheid en reaksie op plaaslike behoeftes. Action Society vra ‘n vergadering aan met minister Nkadimeng om die voorstel te bespreek. Woordvoerder Juanita du Preez sê deur vervolgingsmagte af te wentel na provinsies sal die regstelsel bevoordeel word deur gespesialiseerde plaaslike kennis, vinniger saakoplossing en verbeterde aanspreeklikheid:
# Oudpresident Donald Trump se keuse as adjunkpresident, JD Vance, het amptelik sy benoeming aanvaar op die Amerikaanse Republikeinse Party se nasionale konvensie in Milwaukee. Die 39-jarige hoop om een van die jongste adjunkpresidente in die land se geskiedenis te word. Vance het in sy eerste formele toespraak gesê Trump verteenwoordig Amerika se laaste hoop om reg te stel wat onder president Joe Biden se administrasie verlore gegaan het. Hy voeg by die land het leiers nodig wat Amerika eerste sal stel:
# Rugby: Die afrigter van die All Blacks, Scott Robertson, het elf veranderings aangebring aan sy opdrafspan vir Saterdag se toets teen Fidji in San Diego. Ses nuwelinge is in die groep, met die senter van die Hurricanes, Billy Proctor, in die beginspan, en vyf onder die plaasvervangers. Die groep sluit ook ‘n splinternuwe voorry in bestaande uit die stutte Tamaiti Williams en Fletcher Newell, en die haker Asafo Aumua. Intussen het Fidji se hoofafrigter, Mick Byrne, sewe veranderings aangebring aan sy groep van 23.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-19-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-470-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….