Nuus 11:00
BULLETIN 16 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni beloof om die Staatsveiligheidsagentskap reg te ruk
# OUTA sê politieke inmenging sal altyd die SAL se vermoë belemmer om sukses te behaal
# En rugby: Die Springbokke is vasbeslote om weer hul hoë spelstandaard te handhaaf
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Staatsveiligheidsagentskap is gereed vir ‘n volledige hersiening. Die EFF noem die agentskap nutteloos en onproduktief terwyl die MK-party kla oor die gebrek aan vermoë om die staat teen kuberaanvalle te beskerm. Ntshavheni sê die opknapping hang af van president Ramaphosa se bekragtiging van die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering se verkrygingsprosesse en politieke inmengery sal altyd keer dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in die medium termyn sukses behaal. Die staatslugredery het volgens berigte ʼn vennoot nodig om dit te red nadat sakeredding laat vaar is en die ooreenkoms met Takatso-konsortium misluk het. Die SAL het vroeër vanjaar ʼn verlies van 771-miljoen-rand getoon. Wayne Duvenage van Outa sê sonder ʼn vennoot met ʼn beherende belang, sal die SAL nie winsgewend wees nie. Dit sal in die toekoms reddingsboeie moet kry of moet sluit.
# Die Omgewingsinstituut van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe het kritiek uitgespreek oor die Nasionale Kernkragreguleerder se goedkeuring vir die verlenging van die leeftyd van Koeberg se Eenheid Een in Kaapstad met 20 jaar. Die reguleerder sê dit voldoen aan nasionale wetgewing en internasionale standaarde en volg op ‘n proses van openbare deelname, insluitend agt openbare verhore. Francesca de Gasparis van die instituut sê talle veiligheidskwessies by Koeberg moet nog aandag ontvang:
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, sê Rusland behoort verteenwoordig te word op die tweede spitsberaad vir volhoubare vrede, na ‘n oorlog van meer as twee jaar. Tientalle wêreldleiers het steun uitgespreek vir ‘n regverdige vrede in Oekraïne na ‘n hoëvlak-spitsberaad wat Zelensky verlede maand in Switserland belê het, waarheen Rusland nie genooi is nie. Zelensky het op ‘n nuuskonferensie in Kiëf gesê hy glo Russiese verteenwoordigers behoort op die tweede spitsberaad te wees. Die Kremlin het gesê enige samesprekings oor die einde van die konflik wat Rusland nie insluit nie, is absurd.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle is vasberade om hul hoë spelpeil te herwin in Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Die Bokke het hul ses-twee verdeling op die plaasvervangersbank behou in die reeks teen Ierland en dit het gewerk toe hulle die eerste toets op Loftus Versveld 27-20 gewen het, maar nie toe hulle die tweede toets op Kingspark 24-25 verloor het. Davids sê die span is hoogs gemotiveerd om hul spelpeil te herwin ná verlede week se nederlaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-177-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-435-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….