Nuus 11:00
BULLETIN 15 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar moet vining opgetree word om die land klimaatbestand te maak
# Die Gautengse regering maak vordering met die vereffening van sy deel van die e-tolskuld
# En rugby: Vyf spelers word opgeroep vir die Springbokke se toets teen Portugal
# President Cyril Ramaphosa sê die toename in die voorkoms van uitsonderlike weertoestande is ‘n ernstige waarskuwing dat die regering sy pogings sal moet opskerp om klimaatverandering die hoof te bied. Die Wes-Kaap het een van sy grootste storms die afgelope twee weke beleef, terwyl veldbrande in KwaZulu-Natal woed. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika is besig met beleid en programme om by klimaatsverandering aan te pas en die uitwerking daarvan te versag. Hy sê die regering versterk sy pogings om die ekonomie en die samelewing meer klimaatbestand te maak.
# Die minister van Petroleumhulpbronne, Gwede Mantsashe, sê sy departement is besig met wysigings aan die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne. Dit is om te verseker gedeeltes was as swak uitgewys en in die hof uitgedaag is, word versterk in ooreenstemming met internasionale beste gebruik. Mantashe sê hy gaan ook die lisensie-struktuur hersien om burokratiese rompslomp te verminder en die sake-omgewing vir beleggers te verbeter, terwyl dit voldoen aan Suid-Afrika se maatskaplike en ekonomiese omstandighede:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê die provinsiale regering maak vordering met die verkryging van 12,9-miljard-rand wat nodig is om sy gedeelte van die e-tolskuld te delg. Die regering het e-tol vroeër die jaar amptelik afgeskaf. Die provinsiale regering het ingestem om 30-persent van die byna 43-miljoen-rand te betaal en die Nasionale Tesourie die oorblywende 70-persent wat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap geskuld word. Maile sê daar is verskeie moontlikhede vir befondsing op die tafel:
# Die sekerheidsplanne vir die Amerikaanse Republikeinse Party se nasionale konvensie wat vandag in Milwaukee afskop, is onveranderd ondanks die sluipmoordpoging op Donald Trump op ‘n veldtogsaamtrek in Pennsilvanië. Sowat 50-duisend mense sal na verwagting die vierdaagse konvensie bywoon waar Trump formeel as die Republikeinse presidentskandidaat vir November se verkiesing benoem sal word. Die konvensie se koördineerder van die Geheimediens, Audrey Gibson-Ciccchino, sê hulle het volle vertroue in die sekerheidsplanne wat beraam is:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het vyf spelers na die groep opgeroep vir Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Die nuwe toevoegings is die losvoorspeler Elrigh Louw, die stut Nthuthuko Mchunu, en die nuwelinge heelagter Quan Horn, die haker André-Hugo Venter en die losvoorspeler Ruan Venter. Franco Mostert en Edwill van der Merwe is uitgelaat weens beserings en Damian de Allende is verskoon weens persoonlike redes. Daar is nou sewe nuwelinge in die groep van 41 spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-875-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-401-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….