Nuus 11:00
BULLETIN 10 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Freedom Under Law gaan Hlophe se verkiesing tot die Regterlike Dienskommissie uitdaag
# Die regering word gemaan om werkloosheid, misdaad en onderwys voorop te stel op sy lekgotla
# En, sokker: Spanje klop Frankryk om die Euro-eindstryd te haal
# Freedom Under Law sê hy gaan die Parlement se besluit in die hof betwis om John Hlophe van die MK-party as sy verteenwoordiger op die Regterlike Dienskommissie te verkies. Die afgedankte Wes-Kaapse regter-president is een van ses lede van die Nasionale Vergadering wat op dié kommissie sal dien. Freedom Under Law sê dis onvanpas en irrasioneel om ʼn persoon wat aan growwe wangedrag skuldig bevind en uit sy regs-amp verwyder is, nou aan te stel om oor die geskiktheid van kandidate vir regsposisies te besluit.
# Die Stigting vir Onderwys en Maatskaplike Geregtigheid in Afrika sê die regering van nasionale eenheid se eerste kabinet-lekgotla moet aandag gee aan werkloosheid en misdaad, en bevestig dat onderwys belangrik is. Die tweedaagse lekgotla wat môre begin, gaan aandag skenk oor hoe om die verskillende party-manifeste in ‘n samehangende regeringsbeleid saam te voeg. Hendrick Makaneta van die stigting sê die regering moet duidelike voorkeure uitspel oor die verbetering van landsburgers se lewens:
# Die Hooggeregshof in Pretoria gaan vandag uitspraak lewer in die geregtelike ondersoek na die Life Esidimeni-tragedie. Meer as 140 geestesgesondheidspasiënte is in 2016 dood nadat hulle uit Life Esidimeni se instellings na ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies verskuif is. Die ondersoek moet die oorsaak van die sterftes bepaal asook moontlike strafregtelike aanspreeklikheid. Section 27 se uitvoerende direkteur, Sasha Stevenson, het teenoor die SABC verligting uitgespreek, want families wag al agt jaar op antwoorde:
# Die Verenigde Nasies se Noodhulp-verligtingskoördineerder, Joyce Msuya, het die jongste Russiese aanvalle op Oekraïne veroordeel. Maandag se missielaanvalle op verskeie teikens in Oekraïne het 38 mense gedood, insluitend vier kinders. Die aanvalle het twee van die land se hoof spesialishospitale vir kinders en vroue getref. Msuya sê die voorvalle is deel van ‘n ontstellende patroon van aanvalle op gesondheidsdienste en burgerlike infrastruktuur:
# Sokker: Spanje kom Sondag teen Engeland of Nederland te staan in die eindstryd van die Europese Kampioenskap in Duitsland. Spanje het ʼn agterstand ingehaal danksy doelskoppe van die 16-jarige Lamine Yamal en Dani Olmo om Frankryk in München twee-een te verslaan. Yamal is die jongste speler ooit wat ‘n doel aanteken in ʼn Europese Kampioenskap. Spanje was die beste span vanjaar en het al ses hul wedstryde gewen. Hulle het ook die toernooi-rekord verbeter met hul 13 doele.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-139-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….