Nuus 11:00
BULLETIN 1 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die Departemente van Handel en Internasionale Betrekkinge vir die mislukte handelsooreenkoms met Amerika
# Solidariteit glo ’n handelsooreenkoms is steeds moontlik
# En motorsport: Max Verstappen bly volgende jaar by Red Bull
# Die DA sê die instel van die heffing van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika is ‘n vernietigende vooruitsig. President Donald Trump het gister ‘n uitvoerende bevel onderteken waarin invoertariewe van meer as 60 lande aangepas is. Kanada s’n is verhoog van 25- tot 35-persent. Toby Chance van die DA sê die Departemente van Handel, Nywerheid en Mededinging en van Internasionale Betrekkinge en Samewerking moet hul kopppe in skaamte laat sak omdat hulle nie ‘n ooreenkoms kon bereik nie:
Solidariteit is egter nog optimisties en sê ‘n handelsooreenkoms is steeds moontlik. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het ʼn stel maatreëls aangekondig na aanleiding van die tariefverhoging, onder meer ʼn uitvoerondersteuningskantoor. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle sal vandag ʼn raamwerk vir ʼn handelsooreenkoms aan president Cyril Ramaphosa en Trump stuur:
# Eskom verwelkom die versnelde hervorming in die energiemark met die opening van die kwalifiseringstender om Onafhanklike Transmissie-projekte te bekom. Dit beoog om die land se transmissie-infrastruktuur uit te brei met die teiken van 14-duisend-kilometer se nuwe transmissielyne teen 2032. Die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika sal na verwagting die projek van 440-miljard-rand lei. Dan Marokane van Eskom sê dit sal groter mededinging meebring en die oorgang van hoë- na lae koolstof-energiebronne bevorder.
# Motorsport: Die viermalige heersende wêreldkampioen, Max Verstappen, het bevestig hy bly by Red Bull vir die 2026 Formule Een-seisoen. Die 27-jarige Nederlander is tot 2028 onder kontrak by Red Bull, maar daar was sprake van ‘n moontlike skuif na Mercedes volgende jaar. Verstappen het voor die naweek se Hongaarse Grand Prix gesê dit was nog altyd sy voorneme om volgende jaar by die span te bly, veral met F1 wat ‘n nuwe era van tegniese regulering betree:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-28-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-291-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, bied vandag ‘n dialoog oor vroue in die handelswêreld aan tydens die amptelike bekendstelling van Vrouemaand in die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg. Die geleentheid met die tema ‘Bou veerkragtige ekonomieë vir almal’, sal informele ekonomiese ondersteuning, groen energie en belegging in sleutelsektore uitlig. Die minister sal ook ‘n paneelbespreking lei oor hoe om risiko’s vir die finansiële insluiting van vroue te verminder en oor toegang tot geleenthede in die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….