Nuus 11:00
BULLETIN 7 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ysige weer word vandag verwag op die N3-tolroete
# NERSA bevestig TotalEnergies hou vol met sy groot gas-ontdekkings aan die Suid-Afrikaanse kus
# En, rugby: Wallis is die eerste keer uit die wêreld se top tien na ‘n loesing deur die Wallabies
# Motoriste op die N3 tussen KwaZulu-Natal en Gauteng word gemaan oor ysige weer, sterk wind en besige verkeer. Die N3-tolkonsessie se bestuurshoof, Thania Dhoogra, sê met skole wat heropen en gister se Durban July, sal verkeer noordwaarts na Gauteng vanmiddag toeneem. Die Weerdiens waarsku oor ‘n swaar kouefront wat verkeer kan ontwrig. Dhoogra vra bestuurders om voorsorg te tref, veral naby Van Reenenspas:
# Die African Transformation Movement het hofstukke by die Hooggeregshof in Gauteng ingedien om openbare beskermer Kholeka Gcaleka se Phala Phala-verslag tersyde te laat stel. ATM se president, Vuyo Zungula, voer aan Gcaleka se ondersoek na president Cyril Ramaphosa se optrede was gebrekkig en is beïnvloed deur ‘n belange-botsing. Hy beweer die uitkoms was vooraf bepaal en die ondersoek was nie deeglik nie. Hy lig swak prosedure uit en bevraagteken die integriteit daarvan.
# Die Nasionale Energie-reguleerder het bevestig TotalEnergies hou by sy belegging in sy aansienlike gas-ontdekkings aan die suidkus. Volgens News24 sê Thulebona Nxumalo van Nersa die maatskappy het na aanvanklike planne om te onttrek, besluit om te bly na samesprekings met die regering en belanghebbers. Nxumalo sê dit volg op gissings nadat hulle vennoot, Corporation for National Research Initiatives, planne aangekondig het om afstand te doen van sy 20-persent aandeel. TotalEnergies het ‘n 45-persent aandeel, met groot ontdekkings by die Brulpadda- en die Luiperd-veld aan die suidkus.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gaan die brand in die psigiatriese eenheid van die Dr George Mukhari-akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa, Gauteng, ondersoek. Dit het die lewe geëis van die 35-jarige Lerato Mohlamme. Die provinsiale Gesondheidsdepartement sê die oorsaak is steeds onbekend. Mohlamme, wat in ‘n afsonderingskamer dood is, is gister ter ruste gelê. Zamantungwa Mbeki van die kommissie het op eNCA beklemtoon die brand moet behoorlik ondersoek word vir aanspreeklikheid:
# En, rugby: Wallis sak môre terug na 11de op die wêreldranglys – die eerste keer ooit dat hulle uit die top tien sal wees. Dit volg nadat hulle 25-16 verloor het teen Australië in die eerste toets in Sydney, wat hulle agtste agtereenvolgende loesing was. Die Wallabies het alles in die stryd gewerp na hulle rampspoedige era onder Eddie Jones, en het hulle nuwe afrigter, Joe Schmidt, beloon met ‘n oorwinning. Vroeër het die All Blacks gevoel hoe lekker dit is om met ‘n enkele punt te wen toe hulle Engeland in die eerste toets in Dunedin 16-15 ondergekry het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….