Nuus 11:00
BULLETIN 5 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe minister van Basiese Onderwys wil die skoolleerplan hersien
# Die Nasionale Vergadering stig 30 portefeuljekomitees
# En die Britse Arbeidersparty behaal ’n weghol-oorwinning in die algemene verkiesing
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, beplan om ‘n raadgewende forum aan te wys wat die skoolleerplan moet hersien. Dit sal vakbonde en beheerliggame insluit. Sy is een van die DA-ministers wat aangestel is nadat die regering van nasionale eenheid saamgestel is. Die sektor ondervind talle probleme soos vervalle skole, tekorte aan basiese benodigdhede, oorvol klaskamers en burokratiese onbevoegdheid. Gwarube het aan Business Day gesê die raadgewende liggaam sal opdragte en tydraamwerke kry en ʼn verslag met aanbevelings saamstel.
Die Nasionale Vergadering se Reëlskomitee het intussen 30 portefeuljekomitees en nog vyf ander komitees geskep, insluitend staande komitees. Dit is drie portefeuljekomitees meer as die 27 van die sesde Parlement. Die sekretaris van die Nasionale Vergadering, Masibulele Xaso, sê die komitees stel die Parlement in staat om hul werk van nader te bekyk en doeltreffend te sorg dat hulle hul werk doen:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens beplan teen April volgende jaar ‘n toename van 64-persent in bestemmings vanaf Johannesburg. Die tussentydse uitvoerende hoof, John Lamola, sê die redery gaan nege roetes by sy huidige 14 voeg en beoog om sy aantal vliegtuie teen Maart met 50-persent tot 21 op te stoot. Hy sê die onderneming is finansieel bestendig ondanks ‘n beleggingstransaksie wat ineengestort het, maar benodig oorheersende waarborge vir toekomstige groei. Hy sê die nuwe roetes word teen 2028 na Europa en die VSA beplan.
# Die Arbeidersparty het die Britse algemene verkiesing gewen deur die 326 setels te bekom wat vir ‘n meerderheid in die Laerhuis benodig word. Die partyleier, Keir Starmer, is die Arbeiders se eerste premier in 14 jaar in Downingstraat 10. Hy besoek Buckingham-paleis later vandag waar koning Charles hom sal vra om ‘n regering saam te stel. Die uitgaande eerste minister, Rishi Sunak, het toegegee die Konserwatiewe Party is verslaan. Starmer sê verandering begin nou:
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het die nuweling Jamie Osborne as heelagter gekies vir môre se groot kragmeting met die Springbokke op Loftus Versfeld in Pretoria. Dis die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika, wat boaan die wêreldranglys is, en Ierland, wat tweede is. Craig Casey is bo sy spanmaat van Munster, Conor Murray, gekies om op skrumskakel te begin omdat Jamison Gibson-Park die toer weens ʼn dyspier-besering misloop. Farrell is opgewonde oor Osborne se insluiting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-240-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-363-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….