Nuus 11:00
BULLETIN 4 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe minister van Binnelandse Sake verleng die tydelike visumtoegewing
# Die verwarring oor die jongste brandstofprysaankondiging kos handelaars geld
# En stemlokale het geopen in die belangrike Britse verkiesing
# Die nuwe minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die tydelike toegewing verleng vir buitelandse burgers wat tans wag op die uitslag van visum-, kwytskeldings- en appèl-aansoeke. Visumhouers wat om kwytskelding aansoek gedoen het en waar die aansoek tot 30 Junie geldig was, kry uitstel tot 31 Desember. Schreiber sê die verlenging beskerm aansoekers teen nadelige gevolge of dat hulle verkeerdelik as ongewens verklaar word terwyl hulle wag op die uitslag van aansoeke wat by die departement ingedien is.
# Die Brandstofhandelaarsvereniging het die Departement van Minerale en Petroleum gekritiseer oor die verwarring oor die jongste brandstofprys-aanpassings wat handelaars aan die sak gevoel het. Dit volg nadat die verklaring oor die aanpassings eers Dinsdagaand laat uitgereik is en die instelling van die nuwe, laer prys van gister tot vandag uitgestel is. Die vereniging se uitvoerende hoof, Reggie Sibiya, sê talle vulstasies was onder die indruk die aanpassings sou gister in werking tree, soos die gereelde gebruik is:
# ActionSA in Gauteng glo die nuwe provinsiale kabinet verteenwoordig slegs dieselfde politiek wat Suid-Afrika se ekonomiese middelpunt op sy knieë gedwing het. Premier Panyaza Lesufi het die lede van sy uitvoerende raad aangestel met die ANC in sewe kritieke portefeuljes en die IVP, Patriotic Alliance en Rise Mzansi in een elk. ActionSA se provinsiale voorsitter, Funzi Ngobeni, sê die kabinet verteenwoordig nie die wense van die inwoners nie:
# Kiesers regoor Brittanje het begin stem in ‘n algemene verkiesing wat moontlik die einde kan beteken van die Konserwatiewe Party se 14 jaar aan bewind. Die eerste minister, Rishi Sunak, het die verkiesing in Mei uitgeroep. Die belangrikste kwessies vir die grootste partye in die verkiesingsveldtog het ingesluit die ekonomie, lewenskoste, die stand van openbare dienste, belasting en immigrasie. Sowat 46,5-miljoen stemgeregtigte Britte kan in 650 kiesafdelings in Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland stem.
# Tennis: Andy Murray en sy Britse landgenoot Emma Raducanu sal as promotorskeuse in die gemengde dubbels op Wimbledon speel. Die 37-jarige Murray, ‘n voormalige wêreld nommer een, het aan die enkelspel onttrek. Hy en sy ouer broer Jamie speel in die mans-dubbels, en hulle veldtog begin vandag teen die Australiërs Rinky Hijikata en John Peers. Murray het die enkelstitel in 2013 en 2016 gewen, asook die Amerikaanse Ope in 2012. Die 21-jarige Raducanu het die Amerikaanse Open in 2021 ingepalm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-768-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-355-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….