Nuus 11:00
BULLETIN 2 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# DA verwelkom Hooggeregshofbevel oor gewaarborgde ononderbroke elektrisiteitsvoorsiening vir openbare entiteite
# Die Oos-Kaapse Drankraad is uiters geskok oor die naweek se beplande penne-neer-partytjies
# En, ‘n Boikot-koalisie eis ontruiming van Suid-Afrikaners uit Gaza
# Die DA het die beslissing van die Hooggereghof in Pretoria verwelkom wat die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, verplig om ononderbroke elektrisiteitsvoorsiening teen 31 Januarie 2024 te waarborg vir staatshospitale, klinieke, skole en polisiekantore. Die woordvoerder van die party oor Minerale Bronne en Energie, Kevin Mileham, beskou die bevel as ‘n verklaring dat voortgesette beurtkrag menseregte skend. Mileham skryf die energiekrisis toe aan staatskaping, wanbestuur en ANC-kaderontplooiing. Hy beklemtoon ‘n langtermynoplossing lê in die uitstem van die ANC in volgende jaar se verkiesing.
# Die Oos-Kaapse Drankraad doen ‘n beroep op ouers en gemeenskappe om waaksaam te wees voor die naweek se beplande penne-neer-partytjies, wat met die einde van die eksamen saamval. Berigte van beplande partytjies is aan die polisie en drankinspekteurs gestuur vir vinnige optrede. Leerders word ten sterkste ontmoedig om aan sulke bedrywighede deel te neem. Die raad se woordvoerder, Mgwebi Msiya, doen ‘n beroep op die publiek om enige verdagte bedrywighde by owerhede aan te meld:
# Die organisasie Boycott, Divestment and Sanctions Coalition South Africa moedig president Cyril Ramaphosa aan om sy belofte gestand te doen, om sewe Suid-Afrikaanse families te ontruim wat vasgekeer is in die Gazastrook. BDS SA beweer, meer as ses weke het verloop vandat Ramaphosa die belofte gemaak het. Die koalisie sê buitelandse burgers is deur hulle regerings ontruim, met die uitsondering van Suid-Afrikaners. Hulle eis dringende regeringsingryping om, sonder verdere vertraging, die ontruiming van Suid-Afrikaners uit Gaza na Egipte te verseker.
# Netbal: Die Australiese nasionale vrouesokkerspan, die Matildas, ondersteun hulle netbal-eweknieë wat staak oor salarisse. Lede van die Super Netball-beroepsliga is in ‘n toenemend bitter geskil met Netbal Australië gewikkel oor die voorwaardes van die nuwe kollektiewe bedingingsooreenkoms. Die Matildas het in 2015 ʼn soortgelyke stryd gevoer teen die Australiese sokkerliggaam en een van die spelers, Kyah Simon, sê hulle weet wat die netbalspelers deurmaak. Die netbalspelers is vir alle praktiese doeleindes werkloos nadat die vorige ooreenkoms in September verstryk het.
# En, om mee af te sluit: Kuber-sekerheidskundiges het gewaarsku seksuele afpersing is wêreldwyd aan die toeneem. ‘n Raadgewer, Andy Mashaile, het aan eNCA onthul swendelaars teiken jong kinders wat toegang tot aanlyn platforms het. Hy sê die swendelary gaan oor mense wat versoek word om pornografiese beelde van hulself te stuur en dan word ‘n losprys geëis sodat dit nie uitgelek word nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….