Nuus 11:00
BULLETIN 27 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verander die kabinetsaanbod aan die DA en vervang ’n sleutelministerie
# COPE waarsku vals inligting uit die regeringsonderhandelinge veroorsaak angs en onsekerheid
# En, Elvis Presley se “blue suede shoes” sal na verwagting 2,7 miljoen-rand op ‘n veiling haal
# Onderhandelinge tussen die ANC en die DA stuur op konfrontasie af nadat president Cyril Ramaphosa die bepalings van ‘n vroeëre aanbod aan die party verander het. News24 berig die DA kry steeds ses kabinetsetels, maar ʼn belangrike ministerie is nou van die lys gehaal. Dis vervang met een wat byna geen begroting het nie en baie min maatskaplike of ekonomiese invloed. Die nuusdiens sê die ANC beskou die aanbod as die laaste kans vir die DA om by die regering aan te sluit. Ramaphosa het die DA-leier, John Steenhuisen, gevra om teen Sondag oor die aanbod te besluit.
COPE vra intussen deursigtigheid in die voortgesette onderhandelings oor die samestelling van die regering van nasionale eenheid. Die party waarsku die huidige gebrek aan inligting veroorsaak angstigheid en onsekerheid by die publiek, wat aanleiding gee tot spekulasie en die verspreiding van waninligting. Die waarnemende voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê dit is belangrik om die publiek ingelig te hou om te voorkom die landsburgers en hulle verkose leiers word van mekaar vervreem. Dikgetsi voeg by die belange van die publiek moet voorrang kry in hierdie onderhandelings:
# Saftu skryf Suid-Afrika se werkskeppingstekorte aan strukturele ekonomiese kwessies toe. Die jongste kwartaallikse indiensnemingstatistieke toon ‘n eerste kwartaal-afname van 0,6-persent in formele nie-landbou indiensneming. Die federasie sê ondanks groei in informele handel en sektore soos gemeenskaps- en sakedienste, kwyn werksgeleenthede weens voortdurende afleggings in mynbou en vervaardiging. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die ekonomie sukkel om werk vir nuwe werkers te skep te midde van die afleggings:
# Motorsport: Lando Norris is nou die voorste jaer onder die groep uitdagers vir Max Verstappen, terwyl Red Bull glo die McLaren-bestuurder sal hierdie naweek ‘n groot bedreiging wees by die Oostenrykse Grand Prix op hulle tuisbaan. Verstappen en Norris was in die eerste twee plekke by vyf van die afgelope ses Grands Prix. Hoewel die heersende kampioen vyf wedrenne gewen het en Norris een, was die McLaren-bestuurder op die hakke van Verstappen by Imola, Montreal en Barcelona met nog 14 wedrenne wat hierdie seisoen oorbly.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-675-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-28-sent per vat.
# En, Elvis Presley se ikoniese blue suede shoes sal na verwagting môre op ‘n veiling by Henry Aldridge & Son in Wiltshire omtrent 2,7-miljoen-rand oplewer. Die Amerikaanse sanger het in die 1950’s die beroemde skoene gedra en hulle weggegee die aand voor sy aansluiting by die Amerikaanse weermag. Elvis het die skoene gekry nadat hy vir sy debuut-album in 1956 die treffer Blue Suede Shoes opgeneem het, wat sy mede-sanger Carl Perkins geskryf het. Presley se boesemvriend Jimmy Vervet, die wêreld se voorste Elvis-kundige, het bevestig die skoene is die ware Jakob.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….