Nuus 11:00
BULLETIN 26 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is teleurgesteld oor die afname in indiensneming gedurende die eerste kwartaal
# In Kenia is betogers doodgeskiet en brande in die parlement gestig nadat ‘n omstrede belastingwetsontwerp aanvaar is
# En tennis: Wimbledon se mans-enkelspel sal waarskynlik aan die jong spelers behoort
# Cosatu is teleurgesteld in die daling van 0,6-persent in formele indiensneming in die eerste kwartaal van 2024. Statistieke SA sê daar was ‘n daling van 67-duisend poste in die nie-landbousektor. ‘n Woordvoerder van die federasie, Matthew Parks, sê met werkloosheid op 41,9-persent en werkloosheid onder die jeug op 59,7-persent, moet die regering van nasionale eenheid besuiniging oorboord gooi, die ekonomie stimuleer en die Presidensiële Indiensnemingsprogram uitbrei:
# ActionSA sê die sewende administrasie se kritieke werk word vertraag deur die intense stryd om poste. Volgens die party het agterkameronderhandelings vir ministeriële poste kwessies soos kabinetgrootte en uitvoerende aanspreeklikheid opsy gestoot, met uitgelekte besonderhede wat ondeursigtige gesprekke onthul het. Athol Trollip van ActionSA het president Cyril Ramaphosa se ommekeer oor die vermindering van die kabinet se grootte en die DA en ANC se poging om aanstellings van direkteur-generaals te beïnvloed, gekritiseer:
# Die departement van Maatskaplike Ontwikkeling het op die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en die Smokkel van Onwettige Middels sy kommer uitgespreek oor alkohol wat die jeug se eerste keuse van dwelmmiddel is. Die Nasionale Dwelmbewusmakingsweek het die noodsaaklikheid beklemtoon van die verantwoordelike handel in alkohol, asook gemeenskapsbetrokkenheid. Die departement bied deur die week skakelingsgeleentheid en wil meer projekte loods en vennootskappe met organisasies sluit. Die woordvoerder, Lumka Oliphant, sê hulle beklemtoon voorkoming, onderrig en afhandeling van beleid:
# In Kenia is betogers doodgeskiet en brande in die parlementgebou gestig nadat politici ten gunste van ‘n omstrede belastingwetsontwerp gestem het. Die land se mediese vereniging sê minstens 13 mense is dood en tientalle beseer. Die polisie het losgebrand toe betogers in Nairobi hulle oorweldig en die parlementêre kompleks binnegegaan het. Videomateriaal van binne die parlementsgebou toon tafels en stoele wat omgekeer en vernietig is, terwyl brande, traangas en ʼn waterkanon buite gesien kan word.
# Tennis: Carlos Alcaraz begin Maandag om sy 2023 Wimbledon-titel te verdedig. Sy hoofteenstander is die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner. ʼn Oorwinning sal die 21-jarige Spanjaard ná sy Franse Ope-sege agtereenvolgende Grand Slam-krone besorg. Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, asook die 2013- en 2016-wenner Andy Murray, sukkel tans met beserings. Met Roger Federer wat afgetree het, en Rafael Nadal wat uitrus vir die Olimpiese Spele, sal dit die eerste keer in 22 jaar wees dat nie een van die Groot Vier in die eindstryd is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-524-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….