Nuus 11:00
BULLETIN 25 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die tweede fase van die regering van nasionale eenheid is op koers
# Hitteblootstelling tydens swangerskap kan lei tot ‘n leeftyd se gesondheidsprobleme
# En krieket: Afghanistan klop Bangladesj en maak gereed vir ’n halfeindstryd teen Suid-Afrika
# Die ANC sê die tweede fase van die proses om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm is aan die gang, naamlik om die Kabinet in ooreenstemming met die Grondwet saam te stel. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê hulle voer gesprekke met leiers van partye wat by die RNE ingesluit is. Bhengu-Motsiri sê die 18 partye wat teen Saterdag by die RNE aangesluit het, verteenwoordig ʼn oorweldigende meerderheid van meer as 287 van die 400 setels in die Nasionale Vergadering:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die inhegtenisneming van ‘n verdagte verwelkom vir die moord op ‘n amptenaar van die stad, Wendy Klopper, by die Delft Symphony-behuisingsprojek in Februarie verlede jaar. Hill-Lewis sê die skietery was deel van die gewelddadige betogings waar petrolbomme ook gegooi is. Hy sê volgens die polisie het die 40-jarige verdagte homself oorgegee en sal hy vandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn:
# Die Stad Ekurhuleni het sy tariewe in sy 2024/25-boekjaar se begroting verhoog. Die begroting is tydens ‘n buitengewone raadsvergadering goedgekeur en sluit in ‘n bedryfsbegroting van 60-miljard-rand. Daar word voorsiening gemaak vir ‘n verhoging van 4,9-persent in eiendomsbelasting, nege-persent in watertariewe en sewe-persent in sanitasie. Kragtariewe styg met tussen 11,02-persent en 12,74-persent. Die begroting sluit gratis basiese dienste in vir behoeftige huishoudings en afslag vir pensioenarisse en laagbesoldigdes.
# Navorsers by die Wits-universiteit sê klimaatsverandering hou groter gevare vir ongebore babas in as wat voorheen vermoed is. Dit kan selfs hulle gesondheid en welstand later in hul lewens beïnvloed. Klimaatsverandering is moontlik een van die grootste probleme vir openbare gesondheid in menseheugenis. Professor Matthew Chersich en navorsingsklinikus, Darshnika Lakhoo, sê die uitwerking van hitte op die ongebore baba kan op vele maniere voorkom. Dit sluit in dat die ma sukkel met siektes soos pre-eklampsie en diabetes, en die toenemende gevaar van te vroeë geboortes en ander probleme tydens geboorte.
# Krieket: Afghanistan het gister hul eerste T20-Wêreldbeker ooit gehaal nadat hulle Bangladesj in ʼn dramatiese stryd op ʼn reën-deurdrenkte St Vincent verslaan het. Afghanistan het gekies om eerste te kolf en in hulle 20 boulbeurte 115 vir vyf aangeteken. Bangladesj het volgens die DLS-metode 114 lopies van 19 boulbeurte nodig gehad, maar was op 105 almal uit. Afghanistan en Suid-Afrika meet Donderdag in Trinidad kragte in ʼn wedstryd wat die oggend half-drie Suid-Afrikaanse tyd begin. Indië speel Donderdag in die tweede halfeindstryd in Guyana teen Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-129-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….