Nuus 11:00
BULLETIN 19 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Alles is op koers vir Ramaphosa se inhuldiging by die Uniegebou
# TLU SA is bekommerd oor die aanstelling van Senzo Mchunu, as waarnemende minister van Landbou
# En tennis: Carlos Alcaraz struikel maar dring deur in die eerste rondte van die Queen’s
# Nagenoeg drie-duisend gaste, onder wie plaaslike leiers en internasionale staatshoofde, het hul sitplekke ingeneem in afwagting van President Cyril Ramaphosa se inhuldiging by die Uniegebou. Hoofregter Raymond Zondo sal die seremonie waarneem waar Ramaphosa ‘n ampseed sal aflê en belowe om die Grondwet te handhaaf. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het vroeër gesê die president wil die onderhandelings met die vennote van sy regering van nasionale eenheid bespoedig sodat hy so gou moontlik ‘n inklusiewe Kabinet kan aanwys.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy neem kennis van die aanstelling van die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, as waarnemende minister van Landbou. Die uitvoerende hoof van die organisasie, Bennie van Zyl, sê die skuif laat die vraag ontstaan of sy aanstelling ‘n aanduiding is van ‘n permanente posisie, en of dit werklik nodig was om dié besluit te neem enkele dae voor die aankondiging van ‘n nuwe kabinet:
# Die Stad Kaapstad sê die stad se verkeersdiens het die afgelope week minstens vyf voetgangersterftes hanteer waarvan ‘n paar op hoofroetes plaasgevind het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê padveiligheid is een van Kaapstad se grootste probleme en die aantal voetgangersterftes is kommerwekkend:
# Navorsers het die biologiese merker van Parkinson se Siekte geïdentifiseer waaruit ‘n eenvoudige bloedtoets hopelik ontwikkel kan word om die siekte minstens sewe jaar voor die eerste simptome aan te dui. Wetenskaplikes het agt sleutelproteïne, oftewel merkers, in bloedmonsters van Parkinsons-lyers geïdentifiseer wat algemeen is by mense met die siekte. Kunsmatige intelligensie kan hiervolgens die moontlikheid van Parkinsons aandui. Middels kan lank vóór die eerste simptome teen die siekte geneem word. Meer as tien-miljoen mense wêreldwyd ly aan Parkinsons, en dit is die neurologiese toestand wat wêreldwyd die vinnigste toeneem.
# Tennis: Carlos Alcaraz het Dinsdag by Queens-klub drie stelpunte afgeweer en Francisco Cerundolo met 6-1, 7-5 geklop in sy eerste poging om sy titel te verdedig. Die Spanjaard wat vroeër die maand sy derde Grand Slam by die Franse Ope gewen het, het sy eerste grasbaanwedstryd van 2024 effens onseker begin. Hy het egter later sy voete gevind en met Cerundolo afgereken. Die wêreld se nommer twee het verlede jaar se sege by Queen’s met ʼn Wimbledon-oorwinning opgevolg. Hy kom volgende teen die Brit Jack Draper of Argentyn Mariano Navone te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-507-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-330-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….