Nuus 11:00
BULLETIN 18 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die voorbereidings vir die volgende plaaslike regeringsverkiesing het begin
# Die Israelse weermag skep ‘n afdeling vir aftree-ouderdom reserwelede
# En sokker: Johannesburg gaan die trekking vir die Afcon 2025-uitdunne aanbied
# COPE sê hy het reeds begin met voorbereiding vir die volgende plaaslike verkiesing. Die party se waarnemende hoofsekretaris, Erick Mohlaphamaswi, sê COPE het die naweek tydens ‘n slypskool in Bloemfontein lesse geleer uit foute in die verlede en planne beraam om dit te bekamp. Hy sê die party het swak gedoen in die verkiesing wat gelei het tot ʼn gebrek aan verteenwoordiging in die Parlement en provinsiale wetgewers:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê die stad is vasbeslote om wetstoepassing asook omgewingsregulasies oral in die metro op te skerp. Tshwane het onlangs geraasbesoedelings-regulasies in Plastic View en Cemetry View afgedwing. Brink sê die stadsraad keur munisipale ordonansies goed om die aangeleenthede en dienste wat die munisipaliteit onder sy jurisdiksie lewer, te reguleer:
# Twee Wes-Kaapse hoërskoolleerders wat gekies is vir die SEAmester-program vertrek vandag op ‘n opwindende vaart van tien dae op die SA Agulhas II. Die woordvoerder van die provinsiale Onderwysdepartement Bronagh Hammond sê Aimee Stollie, ‘n graad 12-leerder aan die Môrester Akademie, en Akhona Zondo, ‘n graad 12-leerder aan Simon’s Town High School, sluit aan by oseanografiese, visserye, biogeochemiese en biologiese kenners op die skip:
# Die Israelse weermag skep ‘n nuwe divisie vir reserviste ouer as die aftree-ouderdom van 40 weens die “dringende behoefte aan meer troepe”. Aljazeera haal ‘n korrespondent van die Israelse weermagradiodiens aan wat sê die divisie sal ook ander Israeli’s betrek wat voorheen kwytgeskeld was van diens. Israel se militêre stafhoof Herzi Halevi het onlangs gesê die insluiting van oproep-ouderdom ultra-Ortodokse Jode is ‘n “voor die handliggende noodsaaklikheid”, toe hy die plek besoek het van ‘n dodelike Hamas-lokval op Iraelse troepe in Gaza.
# Sokker: Johannesburg bied vroeg volgende maand die trekking aan vir die 2025 Afrika-nasiesbeker. Die vasteland se beheerliggaam CAF sê dit sal op 4 Julie gebeur in SuperSport se ateljee in Randburg. Die kwalifiserende wedstryde begin in September om die 24 lande te bepaal wat in Julie en Augustus volgende jaar gaan deelneem aan die toernooi in Marokko. Bafana Bafana het die bronsmedalje gewen in die vorige toernooi met hulle beste prestasie in 24 jaar. Die toernooi is toe gewen deur die gashere die Ivoorkus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen twee-duisend-318-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-318-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….