Nuus 11:00
BULLETIN 13 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF en die MK-party kritiseer die Konstitusionele Hof se besluit oor die Phala Phala-saak
# Die polisie ontplooi spesialis-spanne na die ongebruikte myn in Rustenburg na die ontdekking van 14 liggame
# En die WGO waarsku die Ebola-uitbreking in die DRK is moontlik die dodelikste ooit
# Die EFF en die MK-party kritiseer die Konstitusionele Hof se weiering om regstreekse toegang te verleen tot verlof om te appelleer teen die tussentydse interdik in die Phala Phala-saak teen president Cyril Ramaphosa. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het verlede maand ten gunste van Ramaphosa beslis om die werking van die ampsklagkomitee te vertraag tot sy hersieningsaansoek van die Artikel 89-verslag oorweeg is. Die EFF sê die Parlement kan nie sy grondwetlike mag onbepaald hangende hou nie. Die MK-party sê Ramaphosa sal uiteindelik aanspreeklik gehou word.
# Eskom het in talle provinsies bykomende tegniese hulpbronne ingespan ná kragonderbrekings wat deur gure weerstoestande veroorsaak is. Swaar reën, sneeu, sterk wind en uiterste koue het in sommige dele van die land voorgekom. KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en die Vrystaat het deurgeloop onder weer-verwante probleme en skade aan elektrisiteit-infrastruktuur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die weer het infrastruktuur beskadig, talle netwerkfoute veroorsaak en die betrokke gebiede moeilik bereikbaar gemaak:
# Die waarnemende nasionale polisie-kommissaris, Puleng Dimpane, het bykomende spesialis-bystand ontplooi vir die reddings-, herstel- en ondersoekoperasies in ‘n ongebruikte myn in Nkaneng in Rustenburg, Noordwes. Veertien liggame van vermeende onwettige mynwerkers is Dinsdag uitgehaal nadat die wande van die skag ingetuimel het. Agt oorlewendes is gered. Woordvoerder Nonkululeko Phokane sê die operasie word ondersteun deur kundiges, hulpbronne en personeel wat nodig is om die ondersoek en reddingspogings vlot te laat verloop:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo kan die dodelikste op rekord word. Meer as twee-duisend mense uit meer as vier-duisend-300 aangemelde gevalle is dood. Die uitbreking van 2014 tot 2016 in Wes-Afrika is steeds die dodelikste nadat meer as elf-duisend mense uit ongeveer 28-duisend gevalle dood is. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Ghebreyesus, sê hulle hoop om die verspreiding binne drie maande om te keer:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Ben Shelton, en sy Amerikaanse landgenoot, Brandon Nakashima, gaan sake uitspook in die eindstryd van die Kanadese Ope in Montreal. Shelton het nog ‘n Amerikaner, Learner Tien, uitgeskakel terwyl Nakashima die Spanjaard Rafael Jodar verslaan het om sy eerste ATP Meesters-een-duisend-eindstryd te haal. In die vroue-afdeling in Toronto sal die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina van Kazakstan, en Iga Swiatek van Pole in die eindstryd kragte meet. Rybakina het die Amerikaner Coco Gauff in drie stelle geklop terwyl Swiatek met Elina Svitolina van Oekraïne afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-379-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….