Nuus 11:00
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika steun steeds ‘n tweestaat-oplossing vir Israel en Palestina
# Die polisie onderskep ‘n vuurwapensmokkelsindikaat in Johannesburg
# En Wêreldrugby steun die wedstrydbeamptes in die tweede toets tussen die Britse en Ierse Leeus en Australië
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal voortgaan om hom te beywer vir ‘n tweestaat-oplossing tussen Israel en Palestina. Die minister is in New York waar hy deelneem aan ʼn hoëvlak-konferensie van die Verenigde Nasies oor ʼn vreedsame oplossing vir die Palestynse kwessie en ʼn tweestaat-oplossing. Lamola sê Israel kan in vrede bestaan langs ʼn lewensvatbare en volle onafhanklike Palestynse staat:
Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê intussen die Israels-Palestynse konflik het breekpunt bereik en is op pad na ʼn eenstaat-werklikheid gekenmerk deur besetting en ongelykheid. Hy het op die konferensie gesê ʼn regverdige en volhoubare pad vorentoe is twee onafhanklike, demokratiese state:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal vandag die bevindinge bekendstel oor die tender van 800-miljoen-rand vir ‘n suurstofaanleg. Die verslag, saamgestel deur PricewaterhouseCoopers, fokus op verkrygings-onreëlmatighede en bewerings van korrupsie gekoppel aan die Onafhanklike Ontwikkelingstrust. Macpherson sê hy sal die bevindinge beskryf en die stappe wat gedoen sal word om die verantwoordelike persone aanspreeklik te hou.
# Die polisie se teenontvoering-taakspan glo hulle het ʼn sindikaat blootgelê wat betrokke is by die smokkel van ongelisensieerde vuurwapens. Twee verdagtes wat in Meyersdal, Johannesburg, vasgetrek is, is na bewering betrokke by die vervoer van ongelisensieerde vuurwapens reg oor die land. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle is betrap met 30 ongelisensieerde vuurwapens:
# Rugby: Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, het sy steun uitgespreek vir die wedstrydbeamptes in die tweede toets tussen Australië en die Britse en Ierse Leeus in Melbourne. Hulle is erg gekritiseer oor die besluit om Jac Morgan nie te straf vir ‘n vermeende onwettige optrede voor die Leeus-heelagter Hugo Keenan se wendrie nie. Die kritici sluit in die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, en Rugby Australia se uitvoerende hoof, Phil Waugh. Gilpin sê hulle sal soos gewoonlik skeidsregterbesluite hersien, maar nie die bevindings bekend maak nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95 sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-95 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-928 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….