Nuus 11:00
BULLETIN 5 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Zizi Kodwa word in hegtenis geneem
# Die graderingsagentskap Fitch waarsku teen ‘n ANC-EFF-MK-koalisieregering
# En, motorsport: Sergio Perez gaan tot 2026 vir Red Bull jaag
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, is in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng verskyn. Dit hou verband met omkoopgeld van 1,6-miljoen-rand wat hy na bewering ontvang het.
# Die graderingsagentskap Fitch waarsku Suid-Afrika se skuldtrajek sal bykomende risiko’s ondervind as die ANC op die ondersteuning van die EFF of die MK-party gaan staatmaak. Die ANC kon nie ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing behaal nie en sal ʼn regering met opposisiepartye moet vorm. Fitch sê ʼn ANC-EFF-MK-koalisie sal na verwagting beleggersvertroue verswak of staatsbestuur vernietig. Hy voeg by indien die DA die ANC ondersteun, sal dit moontlik die minste verandering bring aan belangrike kredietmaatstawwe.
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê intussen hy sal in die lig van die verkiesingsuitslae alliansievennote betrek by samesprekings oor koalisiereëlings. Die ANC het sy meerderheid in verskeie provinsies behou, maar koalisiereëlings in ander is nodig. Die SAKP se politieke buro sal nou byeenkom om koalisie-keuses en die pad vorentoe te bespreek. Hierdie vergadering sal keuses en uitkomste ondersoek voor besluite deur die alliansie-raadplegingsproses gekommunikeer word.
# Die Stad Tshwane se begroting vir die 2024/25-boekjaar maak voorsiening vir salarisverhogings van 5,1-persent vir werknemers, en vyf-persent vir raadslede. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, sê die voorgestelde verhogings is redelik en in ooreenstemming met inflasieteikens. Sy sê die verhoging sal hopelik ʼn bietjie verligting bied:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het nuwe wetgewing aangekondig wat daarop gemik is om die skerp toename van migrante te bekamp wat die grens met Mexiko onwettig oorsteek. Kragtens die nuwe wetgewing kan immigrasiebeamptes groot getalle onwettige migrante bloot deporteer, sonder om hul asiel-eise te verwerk. Meer as 6,4-miljoen migrante is reeds tydens Biden se bewind verhoed om die grens na die VSA onwettig oor te steek. Hy sê hulle doen beslissende stappe om die suidelike grens verder te beveilig:
# Motorsport: Red Bull het Sergio Perez se kontrak met twee jaar verleng, en hy sal nou tot aan die einde van die 2026-seisoen by dié Formule Een-span aanbly. Die 34-jarige Mexikaan het hom in 2021 by die wêreldkampioen aangesluit vanaf Racing Point, nou Aston Martin. Perez het verlede seisoen ‘n loopbaan-beste tweede plek in die bestuurderskampioenskap behaal ná sy spanmaat, Max Verstappen, en Red Bull gehelp het om hulle eerste een-twee-uitslag asook die vervaardigerstitel te beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-190-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….