Nuus 11:00
BULLETIN 6 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Die DA ondersoek glo twee moontlikhede vir ‘n koalisieregering
# ‘n Ekonoom glo daar is risiko’s en geleenthede in ’n koalisie-regering
# En Narendra Modi neem die voortou in die Indiese verkiesing
# Die DA ondersoek volgens berigte twee moontlikhede terwyl koalisiegesprekke voortgaan. Die ANC het in die verkiesing net 40-persent stemme gekry en die DA 21,76-persent, en die twee partye kan ‘n koalisie vorm vir ʼn gesamentlike meerderheid van bo 60-persent. Die DA het ʼn onderhandelingspan saamgestel wat voormalige partyleiers Helen Zille en Tony Leon insluit. Volgens News24 sê verskeie bronne in die DA die party oorweeg ʼn koalisieregering met die ANC wat kabinetsposte sal insluit, of dat die DA die mees senior posisies in die Parlement kry.
‘n Professor van die Noordwes Universiteit se Sake- en Bestuurskool, Raymond Parsons, sê intussen die onmiddellike vooruitsigte van ‘n koalisieregering behels sowel risiko’s as geleenthede. Parsons sê die uitdaging is om ‘n raamwerk te skep van bestendige regering wat nodig is om sake- en beleggersvertroue te stimuleer:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het ‘n soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat drie vroue in Umzinto doodgeskiet het. Die vroue was op pad bed toe toe die aanvallers die deur oopgedwing en hulle doodgeskiet het. Onder die oorlewendes is ‘n elfjarige meisie wat gewond is. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die verdagtes is onbekend en die motief moet nog bepaal word:
# Die alliansie onder leiding van die Indiese eerste minister, Narendra Modi, se regerende Bharatiya Janata-party loop tans voor terwyl die land se verkiesingskommissie voortgaan om meer as 600-miljoen stembriewe te tel. Voorlopige uitslae toon die alliansie loop voor in net minder as 300 setels, en opposisiepartye in sowat 200. ʼn Party of alliansie wat meer as 272 setels in die Parlement met sy 543 lede kry, kan die regering vorm. Modi sal na verwagting ʼn derde agtereenvolgende termyn beklink.
# Sokker: Real Madrid het ʼn vyfjaarkontrak met die Franse voorspeler Kylian Mbappé onderteken met ʼn gratis oordrag van Paris Saint-Germain. Die 25-jarige speler het PSG 308 keer verteenwoordig en 256 doele aangeteken. Mbappé sê hy is gelukkig en tevrede om by die klub van sy drome aan te sluit. Madrid het Saterdag op Wembley met Borussia Dortmund afgereken en hul rekord verbeter tot ʼn 15de Kampioenskapsliga-titel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-975-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….