Nuus 11:00
BULLETIN 31 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê hy het genoeg fondse
# Die ANC behou sy voorsprong nasionaal
# En Manhattan se distriksaanklaer verwelkom Trump se skuldigbevinding
# Die Verkiesingskommissie sê soos met alle instellings wat die staat befonds, moes hulle werk met die begroting wat hulle ontvang het. Die Nasionale Tesourie ontken bewerings dat die OVK te min fondse gehad het vir die verkiesing. Hy sê hy het bestedingsbesnoeiings aan die kommissie omgekeer en ‘n bykomende 250-miljoen-rand beskikbaar gestel. Die OVK is gekritiseer vir talle probleme wat op verkiesingsdag opgeduik het, insluitend kieserbestuur-toestelle wat buite werking was. Granville Abrahams van die OVK sê hulle het genoeg geld ontvang:
Nadat net meer as 57-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 41,92-persent. Die DA is tans tweede met 23,34-persent en die MK-party derde met 11,31-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 33,57-persent, gevolg deur die DA met 29,31 en die EFF met 12,55. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 43,95-persent, die ANC tweede met 18,98 en die IVP op 15,42. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 52,85-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 20,41-persent en die Patriotic Alliance met 8,96-persent.
# Beurtkrag het ʼn negatiewe uitwerking op indiensneming, werksure en maandelikse verdienste in die arbeidsmark. Dit is volgens die Universiteit van Kaapstad se navorsing ingevolge die “Suid-Afrika onderweg na Inklusiewe Ontwikkelings-program”. Tydens beurtkrag is die gemiddelde kans om werk te kry 2,6-persent laer, daar is 1,3-persent minder werksure per week en maandelikse inkomste is 1,7-persent kleiner. Tim Köhler van die universiteit sê uit ʼn beleidmaker-oogpunt moet die basiese doel wees om die gereeldheid en intensiteit van beurtkrag so vinnig moontlik te verminder en uiteindelik te stop.
# Manhattan se distriksaanklaer, Alvin Bragg, het oudpresident Donald Trump se skuldigbevinding verwelkom. ‘n Jurie het Trump skuldig bevind op 34 aanklagte van die vervalsing van sakerekords om ‘n swyggeld-betaling aan die gewese pornografie-rolprentster Stormy Daniels te verdoesel. Hy is die eerste Amerikaanse president of oudpresident wat aan ‘m misdaad skuldig bevind word. Bragg sê die beslissing wys niemand is bo die reg verhewe nie:
# Sokker: Die voormalige verdediger van Barcelona en Manchester United, Gerard Piqué, word ondersoek vir sy beweerde betrokkenheid by onwettige betalings in die verskuiwing van die Spaanse Super Cup na Saoedi-Arabië. Owerhede ondersoek sedert Junie 2022 of die voormalige president van die Spaanse Sokkerfederasie, Luis Rubiales, ‘n misdaad gepleeg het toe hy ingestem het dat Piqué se Kosmos-maatskappy die toernooi verskuif. Regter Delia Rodrigo het tot die slotsom gekom daar is aanduidings van oortredings in die ooreenkoms. Die 37-jarige Piqué voer aan die ooreenkoms was wettig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-283-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….