Nuus 11:00
BULLETIN 30 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party vaar uitstekend in KwaZulu-Natal
# Die Verkiesingskommissie erken hy kon dinge beter doen
# En rugby: Die kaptein van die Blitsbokke is optimisties oor hul kanse in Madrid
Die stem-telproses gaan voort en is reeds afgehandel in drie-duisend-259 kiesdistrikte. Die MK-party doen baie goed in KwaZulu-Natal, waar hy voorloop met 42,31-persent, gevolg deur die ANC met 20,12-persent en die IVP met 16,17-persent. Ontleders glo die ANC gaan beslis sy meerderheid in die provinsie verloor. In Gauteng loop die ANC voor met 36,85-persent, gevolg deur die DA en die EFF. Nasionaal is die ANC die voorloper, gevolg deur die DA en dan die EFF.
Die Verkiesingskommissie se hoofbestuurder belas met verkiesingsreëlings, Granville Abrahams, erken intussen hulle kon dinge beter doen. Haakplekke en vertragings het veroorsaak dat mense ná nege gisteraand steeds in rye gestaan het. Probleme soos tekorte aan kieserbestuur-toestelle en stembriewe is by die OVK aangemeld. Abrahams het aan Newzroom Afrika gesê hulle kon egter die probleme redelik vinnig oplos:
# ActionSA in Gauteng sê die ondermyning van die oppergesag van die reg word al hoe duideliker en laat miljoene Suid-Afrikaners kwesbaar. Dit volg nadat die party se streekveldtogbestuurder in Johannesburg, Sello Mabelebele, Dinsdagaand ontvoer en aangerand is voor hy vrygelaat is. Slegs drie weke gelede was die party se Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni, en die voorsitter van die jeugforum, Hlupi Gafane, by ‘n kapingsdrama in Olievenhoutbosch betrokke. Action SA sê hy sal toesien dat diegene wat vir die gruwelike dade verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.
# Die Internasionale Federasie van die Rooi Kruis- en die Rooi Halfmaan-vereniging vra ‘n skietstilstand en onbelemmerde toegang tot die Gaza-strook waar miljoene mense toenemend hongersnood ondervind. Die president, Kate Forbes, sê ‘n politieke oplossing is nodig om noodvoorraad te kan lewer. Sy pleit by regerings vir ‘n skietstilstand sodat die nodige hulp gelewer kan word.
# Rugby: Die Blitsbokke se kaptein, Selvyn Davids, sê hulle is optimisties oor hulle vooruitsigte in die naweek se Grand Finale van die Sewesreeks in Spanje. Slegs die top agt mans- en vrouespanne sal in Madrid meeding. Na sewe rondes is Argentinië en Nieu-Seeland die onderskeie mans- en vroue-ligawenners, voor die nuwe alleenstaande toernooi in die Spaanse hoofstad. Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Ierland, Nieu-Seeland en Fidji. Davids sê hulle vertoning in die laaste twee toernooie gee hulle selfvertroue:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-696-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….