Nuus 11:00
BULLETIN 29 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is lang rye terwyl Suid-Afrikaners wag om hul kruisies te trek
# Ses verdagtes is in die Oos-Kaap gearresteer weens die oortreding van die Kieswet
# En, die Withuis sê die VSA sal voortgaan om Israel te ondersteun ten spyte van sy aanvalle in Rafah
# Lang rye is in verskeie gebiede by stemlokale aangemeld, insluitend Luleka Primary School in Khayelitsha, Laerskool Piet Hugo in Polokwane en Country View in Johannesburg. Miljoene Suid-Afrikaners stem vandag by 23-duisend-292 stemlokale in die land. Die stembusse sluit vanaand negeuur, maar die Verkiesingskommissie sê kiesers wat reeds in die ry staan, sal nie weggewys word nie.
Instussen is ses verdagtes in Mqanduli in die Oos-Kaap in hegtenis geneem op aanklagte van die oortreding van die Kieswet. Die verdagtes, tussen die ouderdomme van 24 en 51, het na bewering ‘n tent-stempunt verwoes uit ontevredemheid oor swak dienslewering. ‘n Polisiewoordvoerder, Welile Matyolo, sê die ses sal Vrydag in die Landdroshof in Mqanduli verskyn:
# Rand Water het kennisgewings aan vier plaaslike munisipaliteite in Gauteng uitgereik om hulle in kennis te stel dat hy sy toevoer binne 30 dae met 20-persent gaan besnoei. Die Lesedi-, Merafong City-, Ngwathe- en Victor Khanye-munisipaliteit skuld die waternutsmaatskappy 1,3-miljard-rand. Merafong City, wes van Johannesburg, skuld 838,2-miljoen rand, wat die grootste uitstaande rekening is. Rand Water sê die munisipaliteit se ooreenkoms vir grootmaat-waterlewering stel hom in staat om drinkbare water te beperk in die geval van nie-betaling.
# Die Withuis sê Israel se onlangse operasies en aanvalle in die suidelike stad Rafah in Gaza is nie groot operasies op land wat enige Amerikaanse gevaarlyne oorskry nie. Dit volg nadat 45 Palestyne, wat volgens berigte vroue en kinders insluit, Sondag in ‘n Israelse aanval op ʼn kamp vir ontheemdes dood is. Die woordvoerder van Amerika se Nasionale Veiligheidsraad, John Kirby, sê Amerika ignoreer nie die lot van Palestynse burgerlikes nie:
# Motorsport: F-I-A-president Mohammed Ben Sulayem het voorgestel dat Andretti probeer om een van Formule Een se bestaande spanne te koop eerder as om hul eie span te stig. Die handelsregtehouers, Liberty Media, het Andretti se bod om in 2025 of 2026 by F1 aan te sluit, verwerp. Andretti gaan voort met hulle planne om in hul eie reg deel te neem en het onlangs hul eie basis in die Verenigde Koninkryk by Silverstone geopen. Sulayem sê dit gaan nie oor die aantal spanne nie, maar die gehalte op die baan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-935-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-350-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….