Nuus 11:00
BULLETIN 25 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sal met die privaatsektor saamwerk
# ‘n Voormalige senior amptenaar is skuldig bevind aan korrupsie in verband met ‘n Digital Vibes-kontrak
# En, tennis: Djokovic sê hy is nie die gunsteling by die Franse Ope nie
# President Cyril Ramaphosa sê die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sal baat by vennootskappe met die privaatsektor en maatskaplike vennote. Ramaphosa het veral gewys op samewerking, insluitende ‘n Eenheid vir Digitale Bewyse, vir die hantering van digitale getuienis. Volgens Ramaphosa is vervolging die mees geloofwaardige aanspreeklikheidsmeganisme vir die staat, want dit versterk die oppergesag van die reg. Hy het gister die Wet op die Wysiging van die Nasionale Vervolgingsgesag en die Nasionale Raad op Geslagsgeweld en Vrouemoord onderteken:
# Die ANC in Limpopo is bekommerd die polisie teiken slegs sy lede ondanks strafregtelike sake teen EFF-lede. Dit volg na ‘n ANC-lid, Jossey Buthane, op aanklagte van poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gearresteer is. Die saak volg na geweld tussen ANC- en EFF-ondersteuners verlede naweek in Seshego. Buthane het hom gister aan die polisie oorgegee. Hy het in die Landdroshof in Seshego verskyn en is borgtog van vyf-duisend-rand toegestaan. ANC-woordvoerder Jimmy Machaka sê die saak teen Buthane is polities gemotiveerd.
# Die Handelsmisdaadhof in Pretoria het ‘n 49-jarige senior amptenaar van die Munisipale Infrastruktuur-ondersteuningsagentskap aan korrupsie skuldig bevind, wat met die Digital Vibes-kontrak verband hou. Lizeka Tonjeni was ‘n projekbestuurder in 2018 toe ‘n tender van byna vier-miljoen-rand aan Digital Vibes toegeken is vir kommunikasiedienste. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê Tonjeni het betalings van 160-duisend-rand van Digital Vibes ontvang wat nie gemagtig is nie en waarop sy nie geregtig was nie:
# Tennis: Novak Djokovic erken hy is bekommerd oor sy kanse by die Franse Ope na ‘n teleurstellende halfeindstryd-nederlaag gister teen die Tsjeg Tomas Machac by die Geneefse Ope. Die telling was 6-4, 0-6, 6-1. Djokovic sê hy is nie die gunsteling op Roland Garros nie en hy het baie om aan te werk. Hy verlaat Switserland met vraagtekens wat oor sy fiksheid hang na hy die afgelope paar dae met ‘n omgekrapte maag gesukkel het.
# En om mee af te sluit: die EFF sê hy staan in solidariteit met alle Afrikane wat hulle gedeelde erfenis, eenheid en veerkragtigheid op Afrika-dag vier. Dit is ‘n herdenking van die vasteland se ryk geskiedenis, maar ook ‘n herbevestiging van die voortgesette stryd vir vryheid, gelykheid en geregtigheid. Die EFF sê Afrika het aansienlike vordering gemaak met die vestiging van eenheid en die navolging van gedeelde doelstellings. Die party vier die Afrika-Ontwikkelingsbank se transformerende Desert to Power-inisiatief in die Sahel-streek om krag teen 2030 aan 250-miljoen mense te voorsien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….