Nuus 11:00
BULLETIN 24 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa herhaal die NGV sal ongelykhede in die gesondheidsorgsektor takel
# Minister Patel gaan na 15 jaar in die regering aftree
# En, Israel sê Hamas voer oorlog vanuit burgerlike gebiede
# President Cyril Ramaphosa sê die verbetering van die gesondheidsorgsektor en die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering sal in noue saamwerking wees. Hy het ‘n ANC-vergadering toegespreek by die Gordon-instituut van Sakewetenskap in Illovo, Johannesburg. Sommige opposisiepartye, mediese organisasies en die privaat gesondheidsektor is sterk gekant teen die skema en gaan dit in die hof uitdaag. Ramaphosa het herhaal die NGV sal ongelykheid in die gesondheidsorgsektor takel:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, tree ná die verkiesing uit en beëindig sy 15 jaar as deel van die regering. Dit volg maande nadat die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, ook gesê het hy is nie beskikbaar om in die sewende administrasie na die kabinet terug te keer nie. Patel het in ‘n onderhoud met News24 gesê sy tyd in die amp was intens maar hoogs stimulerend. Hy sê hy is vol vertroue Ramaphosa sal ʼn geskikte plaasvervanger kry wat vars energie en idees na die portefeulje sal bring.
# Die DA in Johannesburg sê die metro se begroting vir 2024/25 wat die raad dié week goedgekeur het, laat inwoners aan die kortste end trek met onrealistiese tariefverhogings.Die begroting van 83,1-miljard-rand gee voorkeur aan infrastruktuurontwikkeling en die versnelling van noodsaaklike dienslewering, en takel energie- en misdaaduitdagings. Belinda Kayer-Echeozonjoku van die DA sê die koalisie in die metro wat deur die ANC en die EFF gelei word, het Johannesburg op sy knieë gedwing:
# Die Israelse Weermag sê hy pas sy operasies aan sodat daar die minste gevaar is vir burgerlikes in Gaza. Die oorlog het ontstaan toe Hamas Israel aangeval en een-duisend-200 mense, meestal burgerlikes, vermoor en sowat 250 gyselaar geneem het. As gevolg van Israel se teenreaksie in die Hamas-beheerde Gaza-strook, is minstens 35-duisend-386 Palestyne dood. ʼn Woordvoerder van die Israelse Weermag, Daniel Hagari, sê die oorlog is nie teen die mense van Gaza nie, maar teen Hamas:
# Krieket: Vanjaar se Indiese Premierliga staan einde se kant toe, en die voorlaaste wedstryd word vandag gespeel. Sunrisers Hyderabad en Rajasthan Royals pak mekaar in die tweede kwalifiseerder in Chennai. Sunrisers het in die eerste kwalifiseerder verloor teen Kolkata Knight Riders, wat boaan die punteleer geëindig het, terwyl Rajastan vir Royal Challengers Bengaluru verslaan het in Woensdag se uitklopstryd. KKR het die toernooi reeds twee keer gewen, Sunrisers is in 2022 tot kampioen gekroon en Rajasthan het in 2008 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-141-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-338-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….