Nuus 11:00
BULLETIN 23 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC het ‘n goeie verkiesingsveldtog gevoer
# Die leier van die Britse Arbeidersparty sê die algemene verkiesing is ‘n geleentheid vir verandering
# En Olimpiese Spele: Saskok sê die regte boustene is ingestel vir Span SA
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle het ‘n skoon en goeie verkiesingsveldtog gevoer. Die Stigting vir Maatskaplike Navorsing se jongste peiling toon die regerende party het aansienlike steun gewen terwyl die DA blykbaar momentum verloor het. Die ANC hou sy laaste Siyanqoba-saamtrek Saterdag op die FNB-stadion in Soweto. Mbalula sê die party het alles in sy vermoë gedoen om seker te maak hy kry nog ʼn kans om te regeer:
# President Cyril Ramaphosa sal môre twee belangrike wetsontwerpe onderteken wat daarop gemik is om geslagsgeweld en korrupsie te bekamp. Die Wetsontwerp op die Nasionale Raad teen Geslagsgeweld en Vrouemoord vestig ‘n multisektorale benadering om die probleem aan te pak en stel die veiligheid van vroue voorop. Die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag bring die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie tot stand, met die fokus op ernstige korrupsiesake. Hierdie direktoraat, wat die bestaande een insluit, sal voorkeur gee aan die ondersoek van ernstige korrupsie, en kommersiële en finansiële misdaad.
# Die leier van Brittanje se Arbeidersparty, Keir Starmer, het eerste minister Rishi Sunak se aankondiging oor ‘n algemene verkiesing verwelkom, en sê dit is wat die land nodig het en waarvoor hy gewag het. Die verkiesing word op 4 Julie gehou. The Guardian se peiling toon die Arbeiders is 21,7 punte voor Sunak se Konserwatiewe party, met 44,7-persent van stemme teenoor 22,9-persent. Starmer sê sy party wil Brittanje terugbring na diens aan werkende mense:
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee sê hy is vol vertroue die regte boustene is ingestel vir die Olimpiese Spele wat op 26 Julie in Parys begin. Die eerste 39 atlete wat die Suid-Afrikaanse span sal verteenwoordig, is verlede week aangekondig, insluitend Chad le Clos, Tatjana Smith, en Wayde van Niekerk. Saskok se vise-president, Lwandile Simelane, sê hulle het volle vertroue in die span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-534-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-68-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die top-30-kandidate wat om die Mej Suid-Afrika-titel meeding, is bekendgemaak, met Gauteng wat die meeste deelnemers het, naamlik 14. Onder vanjaar se uiteenlopende groep hoopvolle vroue is ʼn mediese student, gegradueerdes, onderwysers en ʼn choreograaf. Een van die deelnemers is die 28-jarige Mia le Roux van die Wes-Kaap wat op eenjarige ouderdom met ernstige gehoorverlies gediagnoseer is. Ander mededingers sluit in die naaswenner van Mej Soweto in 2021, Ontshiametse Tlhopane, en Nompumelelo Maduna, wat in 2019 onder Mej Suid-Afrika se top-drie was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….