Nuus 11:00
BULLETIN 22 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gun Free SA kritiseer politieke partye omdat hulle wapenbeheer afskeep
# ’n Verslag toon Pfizer het Suid-Afrika geboelie in hul onderhandelings oor die Covid-19-entstof
# En rugby: Die Springbok-heelagter Damian Willemse is vir sowat vier maande nie beskikbaar nie
# Gun Free South Africa sê wapenverwante misdaad moet voorkeur kry by enige politieke party as hulle ernstig is om die land veiliger te maak vir almal. Sowat 24 wettige wapens beland elke dag in die onwettige mark. Die direkteur van Gun Free SA, Adéle Kirsten, sê hoewel byna al die grootste politieke partye geweldsmisdaad as ‘n sleutelpunt noem in hulle verkiesingsmanifeste, noem die meeste glad nie wapenbeheer nie:
# Die Instituut vir Mediese Geregtigheid sê dis duidelik groot farmaseutiese maatskappye sal gesondheids-noodsituasies uitbuit om regerings te dwing om onredelike ooreenkomste te aanvaar om lewensreddende medisyne te bekom. Die instituut het sy tweede verslag bekendgemaak oor die Gesondheidsdepartement se voorheen geheime Covid-19-ooreenkomste. Die drukgroep sê volgens die dokumente het die regering sonder welslae teëgeskop teen baie voorwaardes wat Pfizer gestel het. Die instituut sê Suid-Afrika is uiteindelik gedwing om ‘n premie te betaal en die risiko te loop van vertragings of skade.
# Johannesburg se afvalbestuursmaatskappy, Pikitup, het ʼn interdik teen stakende werkers gekry. Tydelike werkers wie se kontrakte met die maatskappy binnekort verstryk, betoog sedert verlede Maandag om permanente aanstellings te eis. Die staking raak bedrywighede by depots soos Norwood, Selby, Marlboro, Randburg en Diepsloot. Pikitup se woordvoerder, Muzi Mkhwanazi, sê hulle is daartoe verbind om met ontevrede werkers te beraadslaag.
# Die Verenigde nasies het voedselverspreiding in die suidelike stad Rafah in Gaza opgeskort. Dit is weens ‘n gebrek aan voorrade en ‘n onhoudbare veiligheidsituasie wat deur Israel se voortdurende militêre aanslag veroorsaak is. Die krisis in voorrade het vererger in die twee weke sedert Israel sy inval in Rafah begin het. Israel het beloof om Hamas-vegters in die gebied uit te roei. Scott Anderson van die VN sê hulle herwaardeer die logistieke en veiligheidsmaatreëls in Gaza:
# Rugby: Die Stormers en Springbokke gaan vier maande sonder die veelsydige agterspeler Damian Willemse moet klaarkom. Hy het sy vingerligamente beseer tydens die oorwinning oor Connacht, wat die Stormers ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugbykampioenskap besorg het. Hy sal na verwagting môre ‘n operasie ondergaan. Willemse sal die res van die VRK-seisoen, die Springbokke se toetse in Junie en Julie, en die Rugby-kampioenskap misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-814-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-416-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….