Nuus 11:00
BULLETIN 27 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse polisie soek verdagtes nadat drie doodgeskiet is
# Solidariteit bevestig dat die FlySafair-vlieënierstakinggesprekke sloer
# En die konflik tussen Thailand en Kambodja duur voort
# Wes-Kaapse speurders ondersoek drie moorde en een poging tot moord ná ‘n skietvoorval in Philippi-Oos vroeg gisteroggend. Omstreeks twee uur het twee verdagtes wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, ‘n huis in Hankomostraat binnegegaan en losgebrand. Twee mans van 19 en 20 jaar oud, en ‘n 20-jarige vrou, is op die toneel dood. ‘n 26-jarige vrou is gewond en ontvang behandeling. Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om te help. Die motief is onbekend.
# Die GOOD-party sê Kenny Kunene se bedanking as burgemeesterskomiteelid vir Vervoer en raadslid van Johannesburg is ‘n verantwoordelike stap te midde van politieke uitdagings. Matthew Cook van GOOD sê hoewel dit nie ‘n erkenning van skuld is nie, prys die party sy volwassenheid en dring aan dat die fokus nou na diensleweringsbehoeftes verskuif. Hy sê etiese standaarde en aanspreeklikheid moet versterk word, teen die agtergrond van ondersoeke en kommer oor vertro
# Gideon du Plessis van Solidariteit sê onderhandelinge met FlySafair kon Vrydag afgehandel word. Du Plessis sê ‘n finale aanbod wat gister per e-pos gestuur is, maak egter nie voorsiening vir vlieënierkwessies soos gewaarborgde rus en voorspelbare roosters nie. Hy sê misleidende uitsprake oor salarisse het ook die spanning vererger. Du Plessis sê indien sy lede die aanbod verwerp sal hy môre weer met die KVBA skakel om ‘n oplossing vir veilige en menslike skedulering te vind:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het kommer uitgespreek oor die sewejaar-tydlyn om die Sol Plaatje-grootmaatwaterprojek van 2,7-miljard-rand te voltooi. Tydens ‘n oorsigbesoek het sy inwoners verseker daar is ‘n uitkoms aangesien daar vordering met die proses is. Sy beplan om die Nasionale Tesourie te nader om befondsing te bespoedig om die voorsiening aan die Noord-Kaapse hoofstad te verbeter:
# Kambodja en Thailand het mekaar oor en weer beskuldig van artillerie-aanvalle oor betwiste grensgebiede heen, ure nadat president Donald Trump gesê het die leiers het ooreengekom om aan ‘n skietstilstand te werk. Kambodja sê hulle onderskryf Trump se oproep vir ‘n onmiddellike skietstilstand ten volle. Thailand sê egter hoewel hulle dankbaar is teenoor Trump, kan hulle nie gesprek voer terwyl Kambodja sy burgerlikes teiken nie. Phnom Penh het dit ontken.
# En motorsport: Lando Norris van McLaren sal vanmiddag eerste wegspring by die Belgiese Grand Prix nadat hy die vinnigste in die kwalifiserende rondes was. Die Brit het spanmaat Oscar Piastri en Ferrari se Charles Leclerc met ‘n indrukwekkende ronde by die Spa-Francorchamps renbaan geklop. Leclerc het in die laaste ronde die derde plek opgeraap voor Max Verstappen se Red Bull-motor. Alex Albon van Williams was ‘n indrukwekkende vyfde en het net voor Mercedes se George Russell in die sesde plek ingeskuif. Intussen het Lewis Hamilton sy kwalifiserende uitslag as “onaanvaarbaar” beskryf nadat hy 16de geëindig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….