Nuus 11:00
BULLETIN 19 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vakverbond Saftu kritiseer die Raad van Provinsies se goedkeuring van die Elekstrisiteits-wysigingswetsontwerp
# Die Appèlhof behou uitspraak voor in die Wildekus teen Shell-saak
# En, tennis: Swiatek vermorsel Sabalenka vir haar derde titel in Rome
# Die vakverbond Saftu is omgekrap oor die Nasionale Raad van Provinsies se goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op die Regulering van Elektrisiteit. Die woordvoerder, Trevor Shaku voer aan, die wetsontwerp, wat Eskom se monolopie ontbondel en die elektrisiteitsmark oopstel, bevoordeel privaat sektor-belange bó staatseienaarskap. Hulle het in ‘n parlementêre voorlegging teen die wetsontwerp gewaarsku, dit kan hoër tariewe tot gevolg hê en burgers negatief raak:
# Die Appèlhof het uitspraak voorbehou in die hofstryd van byna drie jaar tussen gemeenskappe van die Wildekus en die verweerders, Shell en die minister van Minerale Bronne en Energie Gwede Mantashe. Die gemeenskappe, gesteun deur organisasies soos Sustaining the Wild Coast en Greenpeace Africa, het Shell se omgewingsgoedkeuring vir seismiese opnames uitgedaag. Die Hooggeregshof in Makhanda het in 2022 ten gunste van die aansoekers beslis weens onvoldoende openbare konsultasie. Shell en Mantashe het appelleer, en voer aan die konsultasie was voldoende.
# Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies het die voedselsekuriteit beskerm van meer as 1,6-miljoen mense in 23 lande. Die senior nood- en rehabilitasiebeampte, Dunja Dujanovic, sê dit is moontlik gemaak deur voorkomende maatreëls teen uiterste weerstoestande. Die jongste El Niño is onder die sterkste op rekord, en raak tot 50-miljoen mense wêreldwyd. Dujanovic sê hule het droogtebestande sade versprei en water-opvangers gebou:
# Tennis: Iga Swiatek het die Rome Ope gewen nadat sy Aryna Sabalenka 6-2, 6-3 weggevee het in die eindstryd vir haar derde Foro Italico-titel. Swiatek, die wêreld se nommer-een-speler, het gemaklik klaargespeel met die tweede-gekeurde Sabalenka in die laaste groot toernooi voor sy haar Franse Ope-titel verdedig. Sy het voor ‘n volgepakte hoofbaanskare haar 12de agtereenvolgende wedstryd op klei ingepalm en die eerste vrou sedert Serena Williams in 2013 geword om Madrid én Rome in dieselfde seisoen te wen.
# En, laastens: Die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap waarsku die son nader volgende jaar sy mees aktiewe tydperk, met die piek-aktiwiteit wat in Julie verwag word. Dit volg op verlede naweek se uiterste sonstorm, wat die aurora australis-fenomeen in Suid-Afrika sigbaar gemaak het. Die agentskap waarsku, sonstorms kan elektriese toerusting, die netwerk, vervoer- en kommunikasie-infrastruktuur ontwrig. Die tussentydse uitvoerende direkteur, Jonathan Ward, sê die voorkoms van die seldsame aurora australis, of suidelike ligte, was ‘n verrassing, en hy beklemtoon die verhoogde moontlikheid van soortgelyke storms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….