Nuus 11:00
BULLETIN 17 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ondersoek onthul besonderhede oor die Sekretaris van die Parlement se salarispakket
# Die publiek word versoek om nie te bespiegel oor die oorsaak van die ramp in George nie
# En die hoof van die Verenigde Nasies sê enige aanval op Rafah is onaanvaarbaar
# Daily Maverick se ondersoekeenheid, Scorpio, het onthul die Sekretaris van die Parlement, Xolile George, se salarispakket, is 92-persent hoër as wat goedgekeur is vir die pos. Hy is in 2022 op ‘n salaris van 2,2-miljoen-rand aangestel, in ooreenstemming met die advertensie, maar dit is daarna tot 4,4-miljoen-rand verhoog en bedra nou glo vyf-miljoen-rand. Scorpio sê volgens bewyse het George ‘n aandeel gehad in die opstel van sy kontrak. Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, sê niks oneties of onwettig het plaasgevind nie.
# Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê die Hooggeregshof in Pretoria se onlangse uitspraak is nog ‘n geskenk aan die onwettige tabakbaronne. Die hof het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verbied om ʼn nuwe reël in te stel wat toelaat dat kringtelevisie-kameras by pakhuise opgesit word waar tabakverwerking plaasvind. Abramjee sê onwettige sigarethandel beroof die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks van 27-miljard-rand aan belastinginkomste, wat neerkom op sowat 74-miljoen-rand per dag:
# Die George-munisipaliteit sê bespiegeling van nie-amptelike kenners oor die oorsake van verlede week se gebou-ineenstorting, kan die amptelike ondersoek negatief raak. Die vyf-verdieping-woonstelgebou het ingetuimel en 81 bouwerkers onder die puin vasgekeer. Drie-en-dertig sterftes is bevestig terwyl 19 mense vermis word. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die Departement van Arbeid en Indiensneming sal die perseel binnekort oorneem om hulle formele ondersoek voort te sit:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê ʼn volskaalse aanval op Rafah in Gaza sal katastrofies wees omdat niks die gesamentlike straf van Palestyne regverdig nie. Sowat 600-duisend mense, ʼn kwart van Gaza se bevolking, het die afgelope week uit Rafah gevlug. Dit volg te midde van voortgesette Israelse militêre optrede. Guterres het sy oproep herhaal dat alle gyselaars wat nog in Gaza aangehou word, onmiddellik en onvoorwaardelike vrygelaat word:
# Gholf: Die Amerikaner Xander Schauffele het ‘n voorsprong van drie houe na die openingsronde van die PGA-kampioenskap in Kentucky. Hy is die eerste speler in die geskiedenis van die toernooi om ‘n ronde van 62 te behaal en slegs die vierde ooit om dit in ‘n mans Major-toernooi te vermag. Sy landgenote, Tony Finai en Sahith Theegala, is saam tweede op ses onder baansyfer. Nog ‘n Amerikaner, Brooks Koepka, wat sy titel verdedig, is op vier-onder, 67.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-139-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….