Nuus 11:00
BULLETIN 16 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag kritiseer Zuma se appèlaansoek vir die herinstelling van Billy Downer se privaat vervolging
# RISE Mzansi is agterdogtig oor die verlengde opskorting van beurtkrag
# En Putin besoek China ‘n derde keer in net meer as ‘n jaar
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê oudpresident Jacob Zuma se jongste appèl-aansoek is misbruik van hofprosesse. Zuma het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen vir verlof tot appèl teen die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Pietermaritzburg wat sy aansoek verwerp het om die staatsaanklaer Billy Downer strafregtelik te vervolg. Downer is die aanklaer in Zuma se wapenskandaal-saak. Die NVG sê die appèlaansoek is Zuma se strategie om geregtigheid te vertraag en hy probeer reeds sedert 2005 om die verhoor uit te stel deur opeenvolgende regsprosesse.
# RISE Mzansi sê die tydsberekening van die land se ononderbroke kragvoorsiening is verdag. President Cyril Ramaphosa en die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, ontken dat die opskorting van beurtkrag wat nou al meer as ‘n maand duur, ʼn verkiesingstrategie is. Tebogo Moalusi van RISE Mzansi sê die ANC moet herinner word dat die skielike staking van kragonderbrekings nie die korrupsie regmaak wat hulle beskerm het en tot die ineenstorting van Eskom gelei het nie:
# ActionSA in Johannesburg beskryf die stad se begroting as negatief teen armes en sê hy verwerp dit met die minagting wat dit verdien. Die burgemeesters-komiteelid vir Finansies, Dada Morero, het vroeër die week die begroting van 83,1-miljard-rand ingedien. Dit benadruk Johannesburg se afhanklikheid van handelsdienste soos water en elektrisiteit vir inkomste. Lukhanyo Gantsho van ActionSA sê Morero se voorlegging het niks vermeld oor hoe hulle gaan voorkeur gee aan werkskepping of wat hulle met die metro se gebrekkige rekeningstelsel gaan doen nie:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het sy tweedaagse staatsbesoek aan China afgeskop met ʼn ontmoeting met sy ampsgenoot, Xi Jinping, in Beijing. Dis die derde ontmoeting tussen die twee leiers in net meer as ʼn jaar terwyl Rusland se oorlog in Oekraïne reeds meer as twee jaar woed. China was ʼn reddingsboei vir Rusland nadat die Weste sanksies teen Moskou ingestel het as straf vir sy inval in Oekraïne. Xi sê China en Rusland sal voortgaan om saam te werk om regverdigheid en geregtigheid in die wêreld te laat geskied.
# Gholf: Die hoof van die Amerikaanse PGA, Seth Waugh, sê Tiger Woods sal genoeg tyd kry om te besluit of hy Amerika se kaptein sal wees in volgende jaar se Ryderbeker-kompetisie in New York. Die 15-malige Major-wenner sê sy aandeel om ʼn ooreenkoms te onderhandel tussen die PGA Toer en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds kan hom moontlik uitskakel. Europa het Amerika verlede jaar in Rome behoorlik verpletter. Waugh sê Woods doen niks waartoe hy nie ten volle verbind is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-86-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….