Nuus 11:00
BULLETIN 15 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryemarkstigting sê die bekragtiging van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering is siniese stemwerwing
# Cosatu is teleurgesteld oor die jongste werkloosheidsyfers
# En krieket: Tristan Stubbs hou Delhi Capitals op koers vir ‘n plek in die uitspeelrondes van die IPL
# Die Vryemarkstigting sê hy ondersoek moontlike regsoptrede teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering. President Cyril Ramaphosa beplan om die wetsontwerp vandag by die Uniegebou in Pretoria te onderteken. Die NGV se doel is om universele dekking vir gesondheidsdienste te skep. Michael Settas van die stigting sê Ramaphosa se ondertekening van die wetsontwerp is ‘n siniese poging om stemme vir die ANC te werf eerder as om aan die gevaarlike aard van die wetgewing te dink:
# Die vakbondfederasie Cosatu is teleurgesteld oor die onlangse styging in die werkloosheidsyfer tot 32,9-persent, en wys op uitdagings in sleutelsektore soos mynbou en vervaardiging. Die organisasie sê ondanks vordering op gebiede soos verminderde beurtkrag en verhoogde beleggings, dui die jongste syfer daarop dat dringende optrede nodig is teen die voortgesette werkloosheidskrisis. Matthew Parks van Cosatu sê werkloosheid bly ‘n kritieke maatskaplik-ekonomiese uitdaging wat onmiddellike, gesamentlike optrede vereis:
# Die EFF in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se aankondiging oor die herinstelling van die begroting vir organisasies sonder winsbejag is nog ‘n oppervlakkige gebaar in die aanloop tot die algemene verkiesing. Die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het vroeër die jaar die begroting vir dié organisasies van 2,4- tot 1,96-miljard-rand gesny. Talle van hulle verskaf dienste soos berading, sielkundige evaluering, en herstel na huishoudelike en seksuele geweld. Die EFF sê Lesufi het verskeie leë beloftes gemaak sonder enige verbintenis om dit na te kom.
# ‘n Oostenrykse hof het beslis die land se mees berugte misdadiger mag na ‘n gewone tronk verskuif word. Josef Fritzl word sedert 2009 in ‘n inrigting vir geestelik-versteurde gevangenes aangehou, nadat hy skuldig bevind is omdat hy sy dogter, Elisabeth, 24-jaar lank gevange gehou en sewe kinders by haar verwek het. Die hof sê die 89-jarige-man, wat intussen sy naam verander het, is nie meer ‘n gevaar vir ander nie weens sy gevorderde demensie en fisieke swakheid. Elisabeth en haar ses oorlewende kinders het nuwe identiteite aangeneem.
# Krieket: Delhi Capitals het sy groepsfase van die Indiese Premierliga afgesluit met ʼn sege van 19 lopies oor Lucknow Super Giants om op koers te bly vir ʼn plek onder die top vier, al is dit net wiskundig gesproke. Die Capitals het 208 vir vier behaal met vyftigtalle deur die Protea-kolwer Tristan Stubbs, en Abishek Porel. Super Giants is daarna beperk tot 189 vir nege nadat Ishant Sharma drie paaltjies laat kantel het. Stubbs sê dit was nie die maklikste kolfblad nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-925-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….