Nuus 11:00
BULLETIN 13 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in George styg tot 24
# Ramaphosa sê daar is hoop dat die einde van beurtkrag in sig is
# En rugby: Die Springbok-vrouespan se afrigter is trots dat hulle vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het
# Die George-munisipaliteit het bevestig nog drie liggame is uit die puin gehaal waar ‘n gebou in die stad ‘n week gelede ingetuimel het. Die sterftesyfer staan nou op 24, en 28 mense is nog onder die puin vasgekeer. Daar was minstens 81 mense op die perseel toe die voorval plaasgevind het. Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge, Alvin Botes, en verteenwoordigers van die ambassades van Mosambiek, Malawi en Zimbabwe vergader vandag met die families.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie besoek vandag die perseel. Woordvoerder Wisani Baloyi sê die doel van die besoek is om die oorsaak en gevolge van die ineenstorting vas te stel, en te besluit watter stappe gedoen moet word om menseregteskendings in die toekoms te bekamp:
# President Cyril Ramaphosa sê dit is te vroeg om te sê of beurtkrag tot ‘n einde gebring is, maar dit is duidelik dat die Energie-aksieplan werk. Vandag is die 47ste dag sonder beurtkrag. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief beurtkrag is nie verminder as ‘n politieke slenter voor die verkiesing, of weens Eskom wat meer diesel gebruik nie. Hy sê die vermindering in beurtkrag is te danke aan ‘n kombinasie van maatreëls, insluitend die herstel van die kragvoorsiener, die ontsluiting van private beleggings in energie-opwekking en die ondersteuning van sonkrag-dakpanele.
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie waarsku ‘n volskaalse aanslag op Rafah in Gaza sal katastrofies wees. Meer as 80-duisend mense het sedert verlede Maandag uit die stad gevlug. Die VN se menseregtehoof, Volker Türk, sê daar is geen manier dat ‘n aanval in ‘n gebied met ‘n uiters digte bevolking met die vereistes van internasionale humanitêre reg versoen kan word nie. Hy sê alle regerings moet alles in hul vermoë doen om ’n aanslag in Rafah te voorkom.
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Louis Koen, sê dit was baie spesiaal en ʼn trotse oomblik toe die span vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland gekwalifiseer het. Suid-Afrika het Madagaskar 46-17 verpletter om hul titel as Afrika-kampioen te behou en hul plek in die Wêreldbekertoernooi te bespreek. Koen sê dis ʼn groot hupstoot vir al die betrokke spelers, bestuur en rolspelers wat saam op die reis is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-610-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….