Nuus 11:00
BULLETIN 10 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die perseel in George waar ‘n gebou ingetuimel het word tot ‘n vliegverbod-sone verklaar
# Die ACDP verwelkom die Nasionale Raad van Provinsies se uitstel van die stemmery oor die Bela-wetsontwerp
# En sokker: Desiree Ellis en Rulani Mokwena oorheers die COSAFA-toekennings
# Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy het ‘n vliegverbod geplaas oor die terrein in George waar ʼn gebou Maandag ingetuimel het. Dit volg nadat ʼn privaat hommeltuig vanoggend gevlieg het oor die gebied waar reddingsoperasies plaasvind. Die George-munisipaliteit sê die vliegverbod sal streng toegepas word en hulle sal mense wat dit oortree, strafregtelik vervolg. Nege bouers is dood in die ramp en 44 word nog gesoek.
# Rise Mzansi vra die Verkiesingskommissie om verhoogde toesig na aanleiding van berigte oor die ANC se verbintenis met Zanu-PF van Zimbabwe vir verkiesingsbystand. Hy kritiseer die ANC se stap en vergelyk dit met die DA se versoek vir Amerikaanse verkiesingswaarnemers. Rise Mzansi se woordvoerder, Gugu Ndima, sê ten spyte van kommer oor verkiesings-integriteit, is die party steeds vol vertroue dat die OVK die 29ste ‘n vrye en regverdige verkiesing sal verseker:
# Die ACDP sê die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette is vol gebreke en dreig om die land se onderwysstelsel te vernietig. Die Nasionale Raad van Provinsies kon weens ʼn tegniese probleem nie gister daaroor stem nie. Die wetsontwerp wysig dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 na aanleiding van probleme wat verband hou met skooladministrasie en bestuurs. Die ACDP sê talle prosedure-foute is deur die hele proses begaan, maar die ANC kies om die vele bekommernisse te ignoreer.
# Die vakbondfederasie Saftu beskuldig Israel dat hy besig is met etniese suiwering van die Palestyne. Verlede maand is byna 400 liggame in massagrafte naby die Al Shifa- en Nasser-hospitale in Gaza gevind. Saftu-woordvoerder Mogoshadi Maserumule sê Amerika moet ook veroordeel word omdat hy wapens aan Israel verskaf nadat president Joe Biden erken het Amerikaanse bomme is gebruik in voorvalle waarin Palestyne dood is:
# Sokker: Suid-Afrika het die eerste COSAFA-toekenningsplegtigheid oorheers wat in Johannesburg gehou is. Die toekenning vir Mansafrigter van die Jaar het aan Mamelodi Sundowns se afrigter, Rulani Mokwena, gegaan, terwyl Desiree Ellis, wat Banyana Banyana afrig, as Vroue-afrigter van die Jaar vereer is. Sundowns se spelers, Ronwen Williams, Thapelo Maseko en Andile Dlamini, is onderskeidelik as Mansdoelwagter van die Jaar, Mees belowende Manspeler en Vrouedoelwagter van die Jaar bekroon. Die Al Ahly-ster Percy Tau is as die Mansspeler van die Jaar aangewys. Mokwena sê dié toekenning is baie spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-203-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-365-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….