Nuus 11:00
BULLETIN 10 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Nobel-vredespryswenner doen ’n beroep op Suid-Afrika om geslagsapartheid tot misdaad te verklaar
# COSATU is bekommerd oor die dreigende vermindering van mediaposte
# En ’n voormalige skoolhoof wat van verkragting beskuldig is, sê Julius Malema moet aanspreeklik gehou word
# Die Nobel-vredespryswenner, Malala Yousafzai, het Suid-Afrika versoek om saam met Afghaanse vroue en meisies te staan teen wat sy bestempel as “geslagsapartheid” onder die Pakistanse Taliban-bewind. Sy was gister een van die sprekers by die Nasionale Vrouedag-vieringe in Pretoria. Yousafzai is in Oktober 2012 deur die Taliban in die kop geskiet vir haar geslagsaktivisme. Sy sê die regerende Taliban het die opvoeding van meisies onwettig gemaak en mans die reg gegee om hul vrouens te slaan:
# COSATU is bekommerd oor die beplande afleggings by Media24 en eNCA en waarsku teen ‘n groeiende krisis in Suid-Afrika se mediabedryf. Media24 het aangedui dat 126 poste in gevaar is, terwyl eNCA 171 afleggings oorweeg. COSATU sê die afleggings bedreig demokrasie en vra vir alternatiewe vir die postevermindering. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê hulle wil ook hê dat die regering ‘n volhoubare, diverse mediasektor moet ondersteun:
# Die voormalige skoolhoof van Bergview College, Jaco Pieterse, sê hy hoop sy saak teen die EFF-leier Julius Malema sal help om gewone burgers teen politici en mense in magsposisies te beskerm. Malema sal na verwagting aangekla wor van crimen injuria nadat die Nasionale Vervolgingsgesag vertoë van AfriForum aanvaar het oor sy openbare bewerings dat Pieterse ‘n sewejarige meisie in Matatiele, Oos-Kaap, verkrag het. Pieterse sê mense wat sulke roekelose en skadelike bewerings maak, moet aanspreeklik gehou word:
# Die Afrika Mayibuye-beweging sê vroue se ekonomiese emansipasie moet sentraal staan tot Suid-Afrika se volgende fase van ontwikkeling. Die beweging vra vir groter toegang tot grond, finansies, vaardighede, tegnologie en markte vir ondernemings wat deur vroue besit word en vroueboere. Hy wil ook hê vroue moet werklike gesagsposisies in die regering, sakewêreld en gemeenskappe inneem. Die beweging wil hê vroue moet voor die plaaslikeregeringsverkiesing help om munisipaliteite te herbou en water, elektrisiteit, sanitasie en ander basiese dienste te verbeter, terwyl hulle armoede en ongelykheid bekamp.
# Sewe mense is volgens die Jemenitiese weermag dood en 30 beseer in ‘n Houthi-aanval op Jemen se Rooi See-hawestad Mocha. Vier militêre personeellede en drie burgerlikes is onder die slagoffers. Die weermag sê hul lugverdediging het 11 Houthi-hommeltuie wat by die aanval betrokke was, onderskep en vernietig. Die Houthi-militêre woordvoerder, Yahya Saree, sê missiele en hommeltuie het groepe Saoedi-troepe en wapendepots geteiken. Jemenitiese owerhede sê woongebiede in Mocha is ook getref. Die aanval kom te midde van voortdurende spanning in die streek tussen die Houthi’s en Saoedi-Arabië.
# En tennis: Vir die eerste keer in drie jaar is die wêreld-nommer-vier, Coco Gauff, terug in die kwarteindronde by die National Bank-ope in Kanada. Gauff het haar plek in die laaste agt in Toronto verseker met ‘n 6-3, 6-1 oorwinning oor die tiener-kwalifiseerder Alina Korneeva. Nadat sy in 2021 vir die eerste keer in Montreal deelgeneem het, het Gauff van 2021 tot 2023 drie agtereenvolgende keer die kwarteindronde gehaal, maar die afgelope twee jaar kon sy nie verder as die ronde van 16 vorder nie. Danksy die oorwinning is Gauff deur na haar sewende WTA-toer-kwarteindronde van 2026 en haar 25ste loopbaan-WTA 1000-kwarteindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….