Nuus 11:00
BULLETIN 6 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting word as vriend van die hof toegelaat in die OVK se appèlsaak
# Die DA sê 10111-inbelsentrums het ’n tekort van bykans 60-persent aan personeel sedert Bheki Cele oorgeneem het as minister van Polisie
# En krieket: Sri Lanka en Skotland kwalifiseer vir die Vroue T20 Wêreldbekertoernooi
# Die Ahmed Kathrada-stigting is as vriend van die hof toegelaat in die Verkiesingskommissie se appèlsaak voor die Konstitusionele Hof. Die OVK appelleer teen die uitspraak van die Verkiesingshof wat oudpresident Jacob Zuma die groen lig gegee het om in die komende algemene verkiesing te staan. Die kommissie het Zuma gediskwalifiseer weens die tronkstraf van 15 maande wat hy in 2021 vir minagting van die hof opgelê is. Die stigting sê die oudpresident is ‘n grondwetlike misdadiger en nie geskik vir die Parlement nie. Die saak sal Vrydag aangehoor word.
# Die DA sê sedert Bheki Cele minister van Polisie is, het die polisiediens minder personeel as vyf jaar gelede, die speurdiens is in ‘n gemors en onopgeloste sake word daagliks in die doofpot gestop. Die minister het na aanleiding van ʼn vraag in die Parlement gesê volgens die nasionale gemiddeld het 10111-oproepsentrums tans 41,3-persent minder personeel as wat ideaal sou wees. Andrew Whitfield van die DA sê dit wys Cele is geensins gepla oor die gebrek aan personeel en hulpbronne vir hierdie noodsaaklike openbare diens nie:
# RISE Mzansi Gauteng sê kommer neem toe oor die ANC se strategieë om werkloosheid in die provinsie te beveg. Suid-Afrika se werkloosheidsyfer het in die vierde kwartaal van verlede jaar tot 32,1-persent gegroei, wat hoër is as voor die pandemie. Die werkloosheidsyfer het toegeneem in ses provinsies, insluitend Gauteng en die Wes-Kaap. Tebogo Moalusi van RISE Mzansi sê bestaande veldtogte, soos Nasi iSpani, moet geskrap word want dit bied slegs korttermyn-oplossings in die stryd teen werkloosheid:
# Die Wêreldorganisasie teen Marteling vra dat die verkiesing in Tsjad vreedsaam verloop. Die Afrikaland stem vandag in sy eerste presidentsverkiesing in drie dekades sonder die langdienende leier, Idriss Déby, wat in 2021 dood is. Sy seun, Mahamat wat die mag oorgeneem het nadat junta-rebelle sy pa vermoor het, is die gunsteling om te wen. Die eerste minister, Succès Masra, is een van nege ander kandidate en word as sy sterkste teenstander beskou. Die organisasie sê hierdie verkiesing bied ʼn unieke geleentheid vir Tsjad om ʼn nuwe tydperk van demokrasie en vrede in te lui.
# Krieket: Sri Lanka en Skotland is die laaste twee spanne om te kwalifiseer vir die T20 Wêreldbekertoernooi vir vroue nadat hulle deurgedring het na die eindronde van die kwalifiseringstoernooi in Abu Dhabi. Sri Lanka het in die halfeindstryd ‘n oorwinning van 15-lopies behaal oor die Verenigde Arabiese Emirate. Skotland het Ierland met agt paaltjies geklop om vir hul eerste T20-Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Die toernooi word in Oktober in Bangladesj gehou, waar Australië na ‘n rekord sewende titel sal mik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-325-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….