Nuus 11:00
BULLETIN 4 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party verwerp ‘n DA-voorstel oor ‘n spesiale sitting vir die verkiesing van ‘n Speaker
# Rugby: Die Blitzbokke is deur na die Sewes-kwarteindstryd in Singapoer
# En, Internasionale Brandbestrydersdag vandag herdenk die heldhaftige optrede van brandbestryders
# Die GOOD-party het die DA se voorstel verwerp vir ‘n spesiale sitting vir die verkiesing van ‘n Speaker omdat die sesde Parlement afsluit sonder dat die vakature gevul is. Dit volg op Nosiviwe Mapisa-Nqakula se bedanking te midde van korrupsiebewerings. Lede van die Nasionale Vergadering se programkomitee het die voorstel afgekeur. GOOD se hoofsweep Brett Herron sê daar is grondwetlike en Nasionale Vergaderingreëls oor die aanstelling van ‘n Speaker:
# Plaaslike gemeenskapspolisiëring-strukture en inwoners in KwaZulu-Natal is verheug oor die in-gebruikneming van vyf moderne polisiekantore in Gamalakhe, Donnybrook, Melmoth, KwaDabhazi en eManguzi. Minister Bheki Cele het by die eManguzi-polisiekantoor gesê dit sal die polisie se reaksietyd en dienslewering opskerp. Die kantore dien ook as vergaderpunt vir Suid-Afrikaanse en Mosambiekse wetstoepassers om oorgrens-midaad te bestry:
# Duitsland waarsku teen die gevolge van ‘n ondraaglike kuberaanval op lede van die Sosiale Demokratiese Party, wat Russiese staatsgeborgde kuberkrakers blameer. Die minister van Buitelandse Sake, Annalena Baerbock, het die bevindings van ‘n federale regeringsondersoek aangekondig, wat die verantwoordelike groep geïdentifiseer het as APT28, ook bekend as Fancy Bear. Hierdie onthulling beklemtoon die ernstige bedreiging wat Russiese kuber-bedrywighede inhou en het Duitsland aangespoor om ‘n amptenaar van die Russiese ambassade te ontbied. Australië het by Duitsland aangesluit om sulke optrede te veroordeel, hul solidariteit uitgespreek en gevra vir verantwoordelike gedrag in die kuberruimte.
# Rugby: Die Blitsbokke het hulle plek in die kwarteindronde van die Sewestoernooi in Singapoer verseker met ‘n sege van 20-19 oor Frankryk. Hulle was rustyd reeds 15-nul voor, maar Frankryk het met drie vinnige drieë die voortou geneem, voordat die Bokke in die laaste sekondes seker gemaak het van hulle vierde drie. Fidji het Ierland in nog ‘n wedstryd met 26-19 geklop. Suid-Afrika se vroue is vanoggend met 34-7 deur Japan die loef afgesteek.
# En, om mee af te sluit: Dit is vandag die 25ste herdenking van Internasionale Brandbestrydersdag, wat diégene vereer wat hulle lewens op die spel plaas om gemeenskappe en eiendom te beskerm. Dit is in 1999 in die lewe geroep nadat lewens verloor is in ‘n veldbrand in Victoria, Australië, met die rooi-en-blou-lintjie wat brandbestryders se dapperheid simboliseer. Die dag vereer nie net brandbestryders wat opofferings maak in diens van hulle gemeenskappe nie; dit gee ook erkénning aan hulle diens, herdenk hulle opofferings, én hérbevestig steun vir hulle families en gemeenskappe wêreldwyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….