Nuus 11:00
BULLETIN 30 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Amerikaanse hof word gevra om Ace Magashule se voormalige assistent uit te lewer
# Die GOOD-party vra minister Gordhan om rekenskap te gee van Eskom se dieseluitgawes
# En boks: Minister Kodwa bring hulde aan die legende Dingaan Thobela
# Die Amerikaanse prokureur, Erek Barron, het die Maryland-distrikshof gevra om Suid-Afrika se versoek toe te staan dat die ANC se gewese sekretaris-generaal, Ace Magashule, se voormalige persoonlike assistent uitgelewer word. Moroadi Cholota is tans in ‘n Amerikaanse tronk. Sy word saam met Magashule en 17 ander aangekla van korrupsie in verband met die mislukte Vrystaatse asbesprojek van 255-miljoen-rand. Barron sê Suid-Afrikaanse owerhede het bewys gelewer van Cholota se betrokkenheid by bedrog en korrupsie en daarom moet die hof die uitleweringsaansoek toestaan.
# Die GOOD-party sê die ondoeltreffendheid van miljarde rand wat die afgelope paar jaar op diesel gemors is, het dieselfde uitwerking op landsburgers se welstand as staatskaping. Die Departement van Openbare Ondernemings het onlangs onthul Eskom het die afgelope vyf jaar byna 65-miljard-rand se diesel gebruik waarvan 23-miljard-rand die afgelope jaar was. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê minister Pravin Gordhan moet landsburgers in sy vertroue neem oor sy mislukking om Eskom tydens sy vyfjaartermyn reg te ruk:
# Dis vandag die laaste dag waarop die MK-party dokumente by die Konstitusionele Hof kan indien om die Verkiesingskommissie se saak teen te staan dat Zuma nie as parlementêre kandidaat in die verkiesing mag staan nie. Die OVK appelleer teen ʼn beslissing van die Verkiesingshof wat bevind het die oudpresident se 15-maande-tronkstraf vir minagting van ʼn Konstitusionele Hof-bevel, is nie ʼn vonnis nie omdat hy nie kon appelleer nie. Die MK-party beskryf die OVK se appèl as ʼn politiek-gedrewe set wat deur eksterne druk beïnvloed is.
# Die Withuis sê anti-Semitisme het geen plek in Amerika nie. Pro-Palestynse studente betoog toenemend op universiteitskampusse. Columbia-universiteit het begin om studente wat hierby betrokke is, te skors nadat hulle ʼn spertyd om uiteen te gaan geïgnoreer het. Die universiteit is die middelpunt van ʼn vlaag kampus-betogings in Amerika teen die oorlog tussen Israel en Palestyne in Gaza. Volgens berigte is meer as 34-duisend Palestyne dood. Die Withuis se perssekretaris, Karine Jean-Pierre, beskryf die betoging as ʼn pynlike oomblik:
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het hulde gebring aan Suid-Afrika se bokslegende, Dingaan Thobela, en sê hy het die nasie en toekomstige boksers besiel. Hy is op 57 jaar by sy huis in Johannesburg dood. Die Roos van Soweto se boksloopbaan het 16 jaar geduur en hy het drie wêreldtitels in twee gewigsafdelings gebuit. Kodwa se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Thobela het deur sy boks-sukses baie bygedra tot Suid-Afrikaanse sport:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-397-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….