Nuus 11:00
BULLETIN 29 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrikaners bly veerkragtig ten spyte van reuse-uitdagings
# Julius Malema waarsku EFF-raadslede wat grond onwettig verkoop, sal geskors word
# En krieket: Gary Kirsten is Pakistan se nuwe eendag- en T20-afrigter
# President Cyril Ramaphosa sê die land gaan steeds onder baie probleme gebuk, maar sy inwoners is ten spyte daarvan baanbrekers, vindingryk en veerkragtig. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief hy is bemoedig dat jong Suid-Afrikaners selfversekerd is oor hulle menseregte, burgerskap, hul rol en plek in die samelewing en hulle potensiaal. Ramaphosa sê die regering is vasbeslote om die vry, regverdige en gelyke Suid-Afrika te skep waarvoor miljoene 30 jaar gelede op Vryheidsdag gestem het.
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid sê Suid-Afrika maak vordering met gelykheids-opvoeding en talle ander ingrypings wat bedoel is om geslagsgelykheid te beskerm. Maar die kommissie is steeds bekommerd oor die vlaag geslagsgeweld en vrouemoord. ‘n Woordvoerder Javu Baloyi sê almal moet ander mense se regte respekteer om hulle seksuele oriëntasie te kies soos dit in die Grondwet en die Menseregtehandves verskans is:
# Die EFF-leier, Julius Malema, het gewaarsku, party-raadslede wat skuldig bevind word dat hulle grond onwettig aan inwoners in Gauteng verkoop het, sal uit die party geskors word. Hy het gister die gemeenskap van Tembisa in Ekurhuleni toegespreek, as deel van die party se veldtog voor volgende maand se verkiesing. Malema het ook herhaal dat die EFF grond sonder vergoeding sal onteien, indien die party die verkiesing sou wen:
# Krieket: Pakistan het Suid-Afrika se oud-kolwer, Gary Kirsten, as die mans se eendagwedstryd- en T20-afrigter aangestel. Die 56-jarige Kirsten het tussen 1993 en 2004 in 101 toetse en 185 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel voordat hy Indië afgerig om in 2011 die eendag-wêreldbeker te wen. Hy rig tans die Gujarat Titans in die Indiese Premierliga af. Die gewese Australiese snelbouler, Jason Gillespie, is aangestel om Pakistan se toetsspan af te rig. Kirsten se eerste taak is volgende maand se T20-reeks teen Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-177-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-40-sent per vat.
# En, laastens: Vandeesweek is Wêreld-inentingsweek, met die viering van 50 jaar van die Uitgebreide Program vir Immunisering. Die Wêreldgesondheids-organisasie sê ‘n baba wat vandag gebore word, is 40-persent meer geneig om tot hul eerste verjaarsdag te oorleef as wat hulle 50 jaar gelede was. Die direkteur-generaal vir die Wêreldgesondheids-organisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê hulle doen ‘n oproep op wêreldleiers om entstowwe en immuniseringsprogramme te steun, te bevorder en te befonds:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….