Nuus 11:00
BULLETIN 26 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die ANC se verlof om te appelleer teen die minagtingsuitspraak in die kaderontplooiingsaak
# China waarsku die VSA om nie by sy binnelandse sake in te meng nie
# En motorsport: Red Bull se ontwerp-genie Adrian Newey verlaat die maatskappy
# Die DA het die ANC se besluit gekritseer, om teen ‘n beslissing van die Gautengse Hooggeregshof te appelleer. Die hof het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en partybeampte Thapelo Masilela aan minagting van die hof skuldig bevind. Hulle het rekords van die party se nasionale kaderontplooiing teruggehou ná ʼn vroeëre bevel wat deur die Konstitusionele Hof bekragtig is. Leon Schreiber van die DA sê die ANC se appèl wys hy vrees die gevolge wanneer president Cyril Ramaphosa se aandadigheid aan kaderontplooiing-korrupsie ontbloot word:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het twee verslae van die Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange aanvaar. Die verslae handel oor die nie-openbaarmaking van ledebelange en die hersiening van die Etiese Gedragskode. Elf lede – tien van die Nasionale Vergadering en een van die NRP – het versuim om hul finansiële en ander registreerbare belange teen die spertyd openbaar te maak. Die komitee het tugstappe aanbeveel. Die aanvaarde Etiese Gedragskode stel intussen strenger strawwe vir die oortreding van die gedragskode en risiko-gerigte profielleefstyloudits vir lede voor.
# China se minister van Buitelandse Sake, Wang Yi, waarsku Amerika om nie by sy land se soewereiniteit, sekerheid en ontwikkeling in te meng nie. Sy Amerikaanse ampsgenoot, Antony Blinken, is in China op sy tweede besoek binne ʼn jaar terwyl die twee lande probeer om hulle gespanne verhouding te stabiliseer. Wang sê China se wettige ontwikkelingsregte word onnodig onderdruk. Hy sê die twee lande kan kies tussen stabiliteit of ʼn afwaartse spiraal. Amerika dreig tans met sanksies teen Chinese maatskappye wat die Russiese verdedigingsbedryf ondersteun.
# Motorsport: Red Bull se hoof van ontwerp, Adrian Newey, gaan volgens berigte ná bykans twee dekades die Formule Een-span verlaat. Die 65-jarige Newey is ongemaklik oor die bewerings van seksuele teistering deur ‘n vroulike werknemer teen die spanbaas, Christian Horner. Horner is in ‘n interne ondersoek onskuldig bevind. Newey was in die beheer van die ontwerp van die motors wat ál 13 van Red Bull se wêreldtitels verower het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-294-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-17-sent per vat.
# En ter afsluiting, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, sal vandag ‘n Vryheidsdag-aktivering in Sunnyside en Marabastad, Pretoria, lei. Vanjaar se Vryheidsmaand-viering is besonder betekenisvol, aangesien dit saamval met die 28ste herdenking van die inwerkingtreding van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Die departement se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê die aktivering is deel van die Vryheidsmaandprogram wat die nasionale Vryheidsdagvieringe voorafgaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….