Nuus 11:00
BULLETIN 25 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet wil aansluit by die Verkiesingskommissie se appèlaansoek in die Konstitusionele Hof
# Ramaphosa brei die Weermag se ontplooiing in Suider-Afrika uit
# En gholf: McIlroy kan moontlik weer by die PGA-toer se beleidsraad aansluit
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Casac, het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om as vriend van die hof aan te sluit in die Verkiesingskommissie se appèlsaak. Die OVK sê die Verkiesingshof se beslissing dat oudpresident Jacob Zuma ‘n setel in die Parlement mag betwis, moet tersyde gestel word. Die raad se woordvoerder, Lawson Naidoo, sê ten spyte van die Konstitusionele Hof se beslissing in Junie 2021 dat Zuma 15 maande tronk toe moet gaan, word hy nie tans verbied om as parlementslid gekies te word nie.
# Die vakbondfederasie Saftu vra die regering om werkgewers te straf wat versuim om pensioenfondsgeld oor te betaal wat van werknemers afgetrek is. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het ‘n lys van ongeveer vier-duisend-200 geregistreerde maatskappye bekend gemaak wat nie pensioenfondsbydraes van altesaam sewe-miljard-rand oorbetaal het nie. Trevor Shaku van Saftu sê die nie-nakoming van die Pensioenfondswet is ‘n oortreding en het ook beduidende maatskaplik-ekonomiese gevolge. Hy sê baie werkers maak staat op die fondse vir maatskaplike verligting nadat hulle ophou werk het:
# President Cyril Ramaphosa het die ontplooiing verleng van een-duisend-495 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om terreurdade en gewelddadige ekstremisme in verskeie dele van Afrika te bekamp. Die Presidensie sê dit is vir soldate in Mosambiek, die Demokratiese Republiek die Kongo, en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Maritieme Veiligheidstrategie om seerowery in die Indiese Oseaan teen te werk. Die weermaglede word van 16 April tot 31 Desember ontplooi teen ‘n geraamde koste van meer as 984-miljoen-rand.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, sê hy is gewillig om na die PGA Toer se beleidsraad terug te keer. Hy het in November bedank weens kommer oor die tyd en energie wat hy aan die rol bestee. Die Noord-Ierse speler kan Webb Simpson vervang wat volgens berigte sy bedanking ingedien en versoek het dat die gewese wêreld-nommer-een sy plek inneem. McIlroy sê hy kan help om onderhandelings oor samesmelting tussen die PGA-toer en LIV Gholf te versnel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-303-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-25-sent per vat.
# En, laastens: Een van die laaste werke van die Oostenrykse skilder Gustav Klimt, Portret van Fräulein Liezer, is vir sowat 615-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in Wene. Die skildery is lank as verlore bestempel, maar dit het onlangs aan die lig gekom dat dit in’n Oostenrykse burger se privaat besit was. Daar word geglo dat die skildery een van die dogters van die broers Adolf óf Justus Liezer uitbeeld, wat uit ‘n ryk familie van Joodse nyweraars gekom het. Die Im Kinsky-afslaers sê die skildery is een van die mooiste uit Klimt se laaste skeppende tydperk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….