Nuus 11:00
BULLETIN 24 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party win ‘n regsmening in oor die Konstitusionele Hof se opdrag
# Die Amerikaanse Senaat keur ‘n wetsontwerp goed wat TikTok in die land kan verbied
# En rugby: ‘n Besering kan Kitshoff uitsluit van die Springbokke se toetse later vanjaar
# Die MK-party sê hy win ‘n regsmening in oor die Konstitusionele Hof se opdrag wat die party en oudpresident Jacob Zuma tot môre kans gee om beëdigde verklarings in te dien teen die Verkiesingskommissie se appèlaansoek. Die OVK het verlede week die hof genader nadat die Verkiesingshof sy besluit omgekeer het dat Zuma weens sy misdaadrekord nie aan die verkiesing mag deelneem nie. Die MK-party sê die OVK bedryf politiek en moes in die eerste plek nie geappelleer het nie.
Die Referendum-party sê intussen selfbeskikking in die vorm van Wes-Kaapse onafhanklikheid sal ‘n veiliger en meer vooruitstrewende toekoms vir al die mense van die provinsie beteken. Die party het sy verkiesingsmanifes op die R62-grensoorgang tussen die Wes- en die Oos-Kaap bekend gestel. Die leier, Phil Craig, sê die doel is om die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, te dwing om ʼn referendum te hou oor Wes-Kaapse onafhanklikheid, wat volgens hom deur 68-persent van die provinsie se mense ondersteun word:
# Solidariteit vra die hersiening van befondsingsmodelle van Werknemer-aandele-eienaarskapplanne. Dit is ‘n werknemervoordeelplan wat werkers ‘n belang in ‘n maatskappy in die vorm van aandele gee. Die planne het na beraming die afgleope jaar minstens 3,1-miljard-rand in dividende uitbetaal. Gideon du Plessis van Solidariteit sê die kostes moet nie van werknemers se dividende verhaal word nie, en belastingverligting vir deelnemende werkgewers moet ondersoek word:
# Die Amerikaanse Senaat het ‘n wetsontwerp goedgekeur wat TikTok in die land kan verbied. Die wetgewing gee die Chinese moedermaatskappy, ByteDance, sowat nege maande kans om TikTok aan ‘n Amerikaanse maatskappy te verkoop, of die toepassing sal uit Amerikaanse toepassings-winkels verban word. Die toepassing wat die deel van videos moontlik maak, word bevraagteken oor die veiligheid van gebruikersdata en sy bande met die regering in Beijing. TikTok se hoof van openbare beleid vir Noord- en Suid-Amerika, Michael Beckerman, sê hulle gaan die hof nader.
# Rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-wenner, Steven Kitshoff, gaan dalk nie betyds herstel vir die Springbokke se toetsreeks teen die Sesnasiekampioen, Ierland, in Julie nie. Hy het ‘n kniebesering opgedoen tydens Ulster se Uitdaagbeker-kwarteindstryd teen Clermont, en gaan die res van die Verenigde Rugbykampioenskap misloop. Die 32-jarige stut het na Suid-Afrika teruggekeer om ‘n knie-spesialis te raadpleeg. Kitshoff sluit hom volgende seisoen weer by die Stormers aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-873-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….