Nuus 11:00
BULLETIN 23 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder sê die MK Party sal veral in KwaZulu-Natal ‘n bedreiging vir die ANC wees
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge versoek Ramaphosa om nie die Onteieningswetsontwerp te onderteken nie
# En Amerika neem kennis van bewerings van oorlogsmisdade in die Midde-Ooste
# ‘n Politieke ontleder sê die MK Party gaan ʼn groot rolspeler wees in volgende maand se verkiesing en kan moontlik die ANC in KwaZulu-Natal ontsetel. Professor Lesiba Teffo sê indien die regerende party nie die vereiste getal stemme kry nie, kan ʼn koalisie tussen MK, die IVP en die DA moontlik in die provinsie aan bewind kom. Teffo sê oudpresident Jacob Zuma se ondersteuning begin rassegrense oorsteek, wat die MK Party kan bevoordeel. KwaZulu-Natal het naas Gauteng die meeste geregistreerde kiesers.
# Die Instituut van Rassebetrekkinge sê hy is bemoedig dat president Cyril Ramaphosa sy besware oor die Wetsontwerp op Onteiening sal oorweeg. Die wetsontwerp wat onlangs in die Parlement aanvaar is, maak onteiening vir openbare doeleindes in openbare belang moontlik. Die instituut se veldtogbestuurder, Makone Maja, sê dit is ongrondwetlik en is deur die Parlement deurgestoomroller en oorhaastig na Ramaphosa gestuur om onderteken te word.
# City Power sê hy verwerp ten sterkste die vals berigte oor tariefaanpassings wat van Julie vanjaar sou geld. Volgens dié berigte gaan ‘n bedrag van 553-rand-73 sent van alle gebruikers van voorafbetaalde elektrisiteit gehef word as deel van ‘n nuwe tariefstelsel. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die openbare raadplegingsproses oor die tariefverhogings van die 2024/25-boekjaar is steeds aan die gang en geen besluit is nog geneem nie:
# Amerika se Departement van Buitelandse Sake se jaarlikse verslag oor menseregte maak melding van bewerings oor oorlogsmisdade deur Israel, Hamas en ander Palestynse militante groepe. Die verslag wat 2023 dek, noem dat menseregtegroepe uitgebreide en in baie gevalle ongekende konflikverwante mishandeling aangemeld het. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê die mishandeling sluit moord, marteling, ontvoering en seksuele geweld in wat Hamas, die Palestynse Islamitiese Djihad en ander op 7 Oktober gepleeg het:
# Rugby: Ierland sal probeer munt slaan uit sy agtereenvolgende Sesnasies-krone wanneer hulle in November teen Nieu-Seeland, Argentinië, Fidji en Australië te staan kom in hulle Herfs-nasiesreeks. Die aanvangswedstryd in Dublin is teen die All Blacks, wat die Iere verlede jaar in die Wêreldbeker-kwarteindronde uitgeskakel het. Die reeks is Andy Farrell se laaste as Ierland se hoofafrigter voor hy in 2025 toesig hou oor die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Hy beloof dit gaan ʼn onvergeetlike reeks wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-379-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-306-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….