Nuus 11:00
BULLETIN 8 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemersending prys Suid-Afrikaners vir ’n vreedsame plaaslikeregeringsverkiesing
# Die DA begin koalisiegesprekke ná sy sterk vertoning in die verkiesing
# En Pole is in skok nadat ses mense in ‘n massaskietery in Krakow doodgeskiet is
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die National Foundations Dialogue Initiative en die Women’s Election Mechanism for Peace het Suid-Afrikaners geprys omdat hulle demokrasie gehandhaaf en verseker het dat die plaaslikeregeringsverkiesing vreedsaam en ordelik verloop. Die organisasies het 619 opgeleide en geakkrediteerde verkiesingswaarnemers in al nege provinsies ontplooi om die opening, stemming, sluiting en telprosesse te monitor. Die waarnemersending het ook ‘n verbetering in kiesersdeelname verwelkom; dit het toegeneem van 12,3-miljoen tydens die plaaslikeregeringsverkiesing van 2021 tot 15,9-miljoen in 2026.
Die DA sê intussen hy sal begin om politieke partye te betrek by koalisiegesprekke om munisipaliteite te bestuur waar geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie. Die party se federale uitvoerende komitee het besluit om samesprekings te begin ná wat hy as ‘n sterk verkiesingsprestasie beskryf. Ashor Sarupen van die DA sê die party het na vore getree as die grootste politieke krag in verskeie munisipaliteite waar geen party ‘n algehele meerderheid het nie, dikwels met ‘n aansienlike voorsprong bo sy naaste mededinger:
# Die president van die landbou-organisasie TLU SA, Henry Geldenhuys, het ’n strafregtelike klag in Sheepmoor, Mpumalanga ingedien teen ‘n parlementslid vir die MK-party, Andile Mngxitama. Die klag volg op uitlatings wat Mngxitama na bewering gemaak het ter ondersteuning van die aanval op die boer Donovan Marx, waartydens die slagoffer se ore afgesny is. Volgens Bennie van Zyl van TLU SA het Mngxitama die afsny van boere se ore na bewering beskryf as simbolies van wat hy genoem het wit mense se weiering om te luister; hy het ook na boere verwys as gronddiewe:
# Eskom sê hy handhaaf steeds die vordering wat deur sy Opwekkingsherstelplan behaal is, met ‘n energiebeskikbaarheidsfaktor vir die huidige boekjaar tot op hede wat 68,16-persent bereik het. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die verbeterde opwekkingsvermoë het die land se elektrisiteitstelsel versterk, wat dit moontlik maak om die fokus te verskuif van herstel na langtermyn-betroubaarheid en volhoubaarheid:
# ‘n Gewapende man, vermoedelik onder die invloed van verregse ideologie, het ses mense doodgeskiet en meer as ‘n tientalle ander gewond tydens ‘n aanval in die bedrywige middestad van Pole se tweede grootste stad. Die polisie sê die aanvaller het gistermiddag met ‘n voertuig op die Hoofmarkplein in Krakow, ‘n gewilde toeristebestemming, gejaag en lukraak op mense geskiet. Vier vroue en twee mans is dood. Drie was Pools, een was ‘n Brit, en nog twee is nog nie geïdentifiseer nie. Onder die 16 beseerdes is vyf buitelandse burgers van Oostenryk, Duitsland, Portugal, Rusland en Brittanje.
# En motorsport: Lando Norris sal die Brasiliaanse Grand Prix vanaf die voorste wegspringposisie begin ná ‘n nat kwalifiserende sessie op Interlagos. Die McLaren-renjaer lei ‘n aansienlik gewysigde wegspringrooster, ná ‘n reeks enjinstrafbepalings. Langs hom in die voorste ry is Mercedes se pas gekroonde wêreldkampioen, Kimi Antonelli. Liam Lawson trek voordeel uit die chaos en sal vir Racing Bulls vanaf die derde plek wegspring – sy beste wegspringposisie tot nog toe. Intussen het die swaar strawwe wat op die wegspringrooster toegepas is, die titel-mededingers Max Verstappen en Lewis Hamilton na die heel agterste plekke laat terugval.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….