Nuus 11:00
BULLETIN 17 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan ‘n klagte by die Openbare Beskermer indien oor verkiesingsmanipulasie
# Die minister in die Presidensie sê gesonde handelsbande is noodsaaklik vir werkskepping
# En, die Verenigde Arabiese Emirate beleef sy hoogste reënval in 75 jaar
# Die DA sê hy gaan ‘n klagte by die Openbare Beskermer indien omdat die ANC openbare hulpbronne misbruik vir verkiesingsmanipulasie. Die party sê die ANC en sy president, Cyril Ramaphosa, manipuleer Suid-Afrikaners met beloftes oor werkskepping deur ʼn skema wat deur belastingbetalers befonds word. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê Ramaphosa het die naweek tydens ʼn ANC-veldtog 500-duisend werksgeleenthede en vaardigheidsopleiding as deel van die skema beloof. Hy sê die regerende party moet aanspreeklik gehou word.
# Die minister vir Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, sê gesonde handelsbande bly noodsaaklik om armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te pak. Meer as 60 ondernemings wat deur Chinese beleggings gefinansier is, het gister aan die 2024-werkskou op die Gallagher-konvensiesentrum deelgeneem. China is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot. Ramokgopa sê meer as 200 maatskappye in Suid-Afrika met beleggings uit China skep meer as 400-duisend plaaslike werksgeleenthede:
# Rise Mzsansi in die Oos-Kaap vra dat die provinsie se Gesondheidsdepartement onder administrasie geplaas word om verdere finansiële wanbestuur te voorkom. Dit volg ná berigte van uitstaande betalings aan verskaffers van sowat 4,8-miljard-rand uit die vorige boekjaar, gekoppel aan ‘n onbetaalde telefoonrekening van 50-miljoen-rand. Pumla Ngesi van RISE Mzansi sê minister Joe Phaahla moet dringend optree:
# Die Verenigde Arabiese Emirate het gister onder stortreën en oorstromings deurgeloop. Die regering sê dit was die hoogste reënval die afgelope 75 jaar toe meer as 142-millimeter reën in 12 uur in Dubai geval het. Die Dubaise Internasionale Lughawe wat onlangs bekroon is as die tweede besigste lughawe ter wêreld, moes vliegtuie herlei omdat sy aanloopbaan onder water was. Die spog-winkelsentrums, Dubai Mall en Mall of the Emirates, is albei oorstroom. Die VAE se regering sê die reën was ʼn ongewone gebeurtenis.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, het berigte verwerp dat hy op die punt staan om by LIV Gholf aan te sluit. Die Londense finansiële oggendblad, City AM, het die naweek berig die Noord-Ierse speler is 16,3-miljard-rand aangebied om by die Saoedi-Arabiese toernooireeks aan te sluit. McIlroy, wat een van LIV Gholf se mees uitgesproke kritici is sedert dit in 2022 bekend gestel is, sê hy sal vir die res van sy loopbaan aan die PGA-reeks deelneem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-618-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….