Nuus 11:00
BULLETIN 15 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê almal moet verseker niks ondermyn die integriteit van die verkiesing nie
# Die Verkiesingskommissie open aansoeke vir spesiale stemme
# En Israel vra die VN se Veiligheidsraad om sanksies teen Iran in te stel
# President Cyril Ramaphosa sê alle Suid-Afrikaners moet saamwerk om te verseker die verkiesing is ‘n sukses en die demokrasie word daardeur versterk. Die land hou op 29 Mei die sewende algemene verkiesing sedert 1994. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika se verkiesingsprosesse en die regte van burgers en politieke partye om veldtogte te voer en deel te neem, is van die sterkste kragte van die grondwetlike orde. Hy sê almal moet help verseker dat niks die integriteit van die verkiesing ondermyn nie.
Intussen het die Verkiesingskommissie die proses geopen vir geregistreerde kiesers wat vir spesiale stemme wil aansoek doen. Enige persoon wat nie op die verkiesingsdag kan stem nie, mag aansoek doen om ‘n spesiale stem uit te bring. Dit sluit mense in wat op verkiesingsdag werk, asook siek, gestremde en swanger persone. Spesiale stemme kan tuis of by ʼn stemlokaal uitgebring word. Aansoeke sluit op die derde van volgende maand.
# Die DA sê ‘n totale gebrek aan aanspreeklikheid bestaan binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Tussen April en September verlede jaar is 165 polisielede betrek by gesinsgeweld. Slegs 93 sake van gesinsgeweld waarby polisielede betrokke was, is gedurende dié tydperk opgelos. Okkie Terblanche van die DA sê van di 93 sake het slegs drie tot die lid se ontslag gelei, wat skokkend is:
# Israel se afgevaardigde by die Verenigde Nasies, Gilad Erdan, het die VN Veiligheidsraad gevra om alle moontlike sanksies teen Iran in te stel voordat dit te laat is. Teheran het die naweek meer as 300 missiele op Israel afgevuur in ‘n vergeldingsaanval vir die dodelike aanval op die Iranse konsulaat in Damaskus, Sirië, vroeër die maand. Erdan sê Iran moet gestuit word voordat hy die wêreld te ver dryf:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het weens ʼn besering aan die Barcelona Ope onttrek. Die Spanjaard het die Monte Carlo-meesters ook misgeloop weens die besering aan sy regterarm. Alcaraz het die Barcelona-titel in 2022 en verlede jaar gebuit. Sy landgenoot, Rafael Nadal, wat die toernooi al ʼn rekord 12 keer gewen het, speel môre in die openingsronde teen die Italianer, Flavio Cobolli.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-422-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….