Nuus 11:00
BULLETIN 30 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe ondervind personeeltekorte weens die taxi-verwante onrus
# Die MK-party se verkiesingsveldtog word as ‘n katastrofiese gemors beskryf
# En rugby: Die vyfde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap word gevolg deur ‘n maand se onderbreking
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe se sekerheid-sifting ondervind tans langer as normale toue weens ʼn tekort aan personeel. Dit hou verband met die voortslepende taxi-onluste wat tot personeeltekorte lei en vlugte vertraag. Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy raai passasiers aan om verkeersinligting dop te hou, hul vlugstatus by hul lugredery na te gaan en vroeg op te daag om voorsiening te maak vir bykomende tyd vir prosedures. ACSA sê spanne is besig om passasiersvloei te bestuur en ontwrigting te beperk.
# Lede beskryf die MK-party se eerste munisipale verkiesingsveldtog as ‘n katastrofiese gemors. Partyleier Jacob Zuma is nog nie weer in die openbaar gesien sedert hy vroeër die maand tydens ʼn saamtrek siek geword het nie. MK het sy Siyathatha-saamtrek en fisiese manifes-bekendstelling afgestel, sy agtste hoofsekretaris in minder as drie jaar afgedank en sy parlementêre koukus geherstruktureer. ʼn Persoon in die binnekring het aan News24 gesê Zuma se afwesigheid weerspieël die gebrek aan ʼn amptelike nasionale verkiesingsveldtog. Hy sê MK se verkiesingsveldtog was ʼn volslae mislukking.
# ActionSA steun die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, se aanbeveling aan die kabinet om KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, aan te stel as hoof van die Valke. Stephan Gerber van ActionSA sê die aanbeveling volg op maande van ondersoeke, kommissies, parlementêre komitees en toenemende openbare druk oor misdadige interne elemente se beweerde infiltrasie van die Polisiediens. Hy sê Mkhwanazi het verlede jaar hierdie bekommernisse nasionaal onder die kollig geplaas:
# Amerika se visepresident, JD Vance, glo president Donald Trump se administrasie sal sy doelwitte in Iran bereik. Volgens ʼn nuwe beraming deur Amerika se Sentrale Bevel het die oorlog, wat op 28 Februarie uitgebreek het, die land teen middel hierdie maand minstens 782,46-miljard-rand gekos. Trump sê tensy Iran instem tot ʼn ooreenkoms, sal hy moontlik ná die middeltermynverkiesing optrede teen Teheran hervat. Vance het aan Fox News gesê die oorlog sal binnekort verby wees:
# Rugby: Die vyfde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap sal na hierdie naweek se wedstryde vir ‘n maand onderbreek word vir die internasionale gleuf. Die Leeus en Glasgow Warriors speel vanaand teen mekaar in Skotland, en die Stormers verwelkom môre die Ierse span Ulster in Kaapstad. Die Bulle ontvang die Walliese span Scarlets op Loftus, terwyl die Haaie in Ierland teen Munster te staan kom. Die Bulle is tans derde op die punteleer, agter Edinburgh en Glasgow. Die Stormers is vierde, die Haaie vyfde en die Leeus elfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-385-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-983-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….