Nuus 11:00
BULLETIN 29 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika maak gereed vir enige gebeurlikheid rakende AGOA
# Netanyahu beskuldig Arabiese partye dat hulle Israel se verkiesing steel
# En rugby: Thomas du Toit sê dit sal tyd neem vir die Haaie om op dreef te kom in die skrums
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering maak gereed vir enige gebeurlikheid rakende Amerika se Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die Withuis hersien jaarliks lande se deelname en gaan Sondag ‘n besluit aankondig. Kommer bestaan oor Suid-Afrika se moontlike uitsluiting weens die diplomatieke geskil met Washington. Lamola sê Suid-Afrika moet handel met sy tradisionele vennote versterk, nuwe markte verken en gunstige voorwaardes vir goedere en produkte onderhandel:
# Sakeliga het die Konstitusionele Hof genader om die vereiste vir skriftelike ooreenkomste by oordrag van wooneiendomme te verdedig. Die organisasie wil as ‘n vriend van die hof by die saak aansluit nadat die Hooggeregshof in Pretoria beslis het mondelinge ooreenkomste kan wetlik bindend wees vir eiendomsoordrag. Anton Meijer van Sakeliga voer aan skriftelike ooreenkomste help om bedrog te voorkom, beskerm eiendomsregte, verminder geskille oor eienaarskap, en bied regsekerheid.
# Stad Kaapstad se gesamentlike veiligheid- en sekerheidsdienste en die polisie het sigbaarheid verhoog by talle openbarevervoer-wisselaars nadat drie mense gisteroggend op die Palm-taxistaanplek in Delft doodgeskiet is. Die geweld spruit voort uit voortslepende geskille oor roetes en bedryfsregte tussen die taxiverenigings CATA en CODETA. Skietvoorvalle is ook op taxistaanplekke in Mfuleni, Khayelitsha en Gugulethu aangemeld. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê hulle het ook waarneming met hommeltuie verhoog:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, vra ʼn onmiddellike ondersoek en beweer Arabiese partye het die verkiesing gesteel deur omkopery, geweld en onregmatighede wat stemme betref. Meer as 80-persent van die stemme is getel na Dinsdag se verkiesing. Netanyahu se Likoed-party en sy verregse bondgenote, en sy teenstander, Gadi Eisenkot, se Yashar-party, gaan nie een ʼn meerderheid van die 120 setels in die parlement, die Knesset, verkry nie. Netanyahu sê die Arabiese partye wat terrorisme en die uitwissing van die Joodse staat ondersteun, het die integriteit van die verkiesing en die uitslag ernstig benadeel.
# Rugby: Die Haaie-stut Thomas du Toit sê die span is vol vertroue voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Munster in Limerick, Ierland. Die Durbanse span het sokkies opgetrek na hul nederlaag van 39-22 teen die Stormers en oorwinnings behaal oor Lyon in die Uitdaagbeker en Cardiff in die VRK. Die Haaie het wel onder afrigter JP Pietersen hul wen-vermoë teruggekry, maar skrums bly ʼn uitdaging. Du Toit sê hulle moet net geduldig wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-35-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….